CHRISTUS BY ONS
Die boodskap van die nagmaal
Polumnia, 1981 – p. 21, 22
Dat Christus by ons is, en wel alle dae tot aan die voleinding van die wêreld, staan vir die gelowige vas op grond van die duidelike belofte van die opgestane Here self (Matt. 28:20). Tog het die vraag hoe oor hierdie teenwoordigheid van Christus gedink moet word, tot intensiewe diskussie en groot onderlinge verdeeldheid in die geskiedenis van die kerk aanleiding gegee.
Dit is aan die Rooms-Katolieke leer van die transsubstansiasie te danke dat die teenwoordigheid van Christus by ons in die Middeleeuse kerk hoofsaaklik in die sakrament van die heilige mis (die Rooms-Katolieke ekwivalent van die nagmaal) gesoek is. Die oortuiging dat die brood en wyn tydens die instellingswoorde (“Dit is my liggaam” en “Dit is my bloed”) werklik verander in die liggaam en bloed van Christus, hou vanselfsprekend in dat geglo moet word dat Christus sélf op die altaar in die kerk teenwoordig is in die gestaltes van sy vlees en bloed.
Dit is die Rooms-Katolieke leer van die praesentia realis of werklike teenwoordigheid van Christus. Hy sélf is op die altaar in die kerk teenwoordig. Dáár kan ook werklike “liggaamlike” kontak met Hom plaasvind. Deur die eet van die brood en die drink van die wyn ontvang die kommunikant Christus self in ’n fisieke sin, en dit beteken dat hy ook die genade en die heil van Christus geestelik deelagtig word. Dit is met die kommunikant soos met die vrou wat die soom van Jesus se kleed aangeraak het: krag van Hom het in haar oorgevloei. So stroom die krag van die genade ook oor in die kommunikant as hy Christus se liggaam eet en sy bloed drink.
Die feit dat die genade in die Rooms-Katolieke Kerk in die Middeleeue en ook nog daarna hoofsaaklik as ’n krag verstaan is, het daartoe gelei dat die mis as die vernaamste sakrament verstaan is. Alle ander sakramente is min of meer rondom die mis gegroepeer, en almal het ten doel om die krag van die genade in die mens te stort. Die mis is egter die vernaamste sakrament, omdat Christus daarin werklik liggaamlik teenwoordig is en die kontak met Hom daarin so direk as moontlik is.
In die Protestantisme is van die begin af heeltemal anders oor die teenwoordigheid van Christus by ons gedink. Vir Luther en Calvyn is Christus by sy gemeente teenwoordig deur sy Woord en Gees. In die gepredikte Woord van die Evangelie kom Christus self na die gemeente en deur die Heilige Gees woon hy in die gemeente. Omdat die Reformasie die genade nie as ’n krag verstaan het nie, maar as die vriendelike goedgunstigheid van God teenoor die sondaar, was dit nie nodig om die ontvangs van die genade te koppel aan fisieke kontak met die ware liggaam en bloed van Christus in die brood en wyn van die altaarsakrament soos dit by Rome geskied het nie. Waar twee of drie in die Naam van Christus vergader is, is Hy in hulle midde (Matt. 18:20). Die werklike teenwoordigheid van Christus by sy gemeente kon dus deur die Reformasie veel wyer verstaan word as by Rome. Die binding aan die mis was deurbreek. Deur sy Gees is Christus altyd by die gemeente.
Die verwyt wat nou egter aan die adres van die Reformasie gerig is, was dat die teenwoordigheid van Christus by die gemeente op hierdie wyse “vergeestelik” word. Kan ’n mens dan nog sê dat Christus sélf by die gemeente teenwoordig is as die vleesgewordene? Is Hy dan nie meer na sy mensheid ook by die gemeente teenwoordig nie? As Christus net deur die Gees teenwoordig is, is dit dan nog moontlik om van werklike teenwoordigheid van Christus te praat, of gaan sy teenwoordigheid op in die teenwoordigheid van die Gees? Word Christus dan op dié wyse vervang deur die Gees? En as Christus net na sy Godheid by ons teenwoordig is, beteken dit dan dat die eenheid wat tussen sy Godheid en mensheid in die vleeswording tot stand gekom het, verbreek word?
Luther was besonder gevoelig vir hierdie soort kritiese vrae. Vir sy besef het Zwingli inderdaad te ver gegaan deur nie alleen te ontken dat die sakramente heilsmiddele kan wees nie, maar ook te sê dat Christus nie in die nagmaal op ’n ander wyse teenwoordig is as op alle ander plekke en tye nie. Daarom het Luther op sy beurt beklemtoon dat Christus werklik liggaamlik in die nagmaalstekens aanwesig is. Hy verwerp die Roomse leer van transsubstansiasie, maar stel in die plek daarvan die leer van die konsubstansiasie: in, met en onder die tekens van brood en wyn is Christus se ware liggaam en bloed aanwesig. Die verheerlikte menslike natuur van Christus kan alomteenwoordig wees net soos Sy goddelike natuur. Dit kan ook nie van die goddelike natuur van Christus losgemaak word nie, want dan sou die vleeswording ongedaan gemaak word. Christus kán dus nie net na Sy goddelike natuur by ons wees in die nagmaal nie. Hy is ook nie slegs deur die Gees daar teenwoordig nie. Hy sélf, die Godmens, is onder die tekens van brood en wyn aanwesig en gee Homself aan ons.
Calvyn neem ‘n midde-posisie tussen Luther en Zwingli in. Hy verskil van Zwingli deurdat hy die werklike teenwoordigheid van Christus in die nagmaal net so sterk as Luther of Rome wil handhaaf. Maar hy verskil van Luther (en uiteraard ook van Rome) oor die wyse waarop hy die teenwoordigheid sien. Anders as Luther aanvaar hy nie dat die verheerlikte menslike natuur van Christus alomteenwoordig is net soos sy Godheid nie. Daarom sê hy dat die verheerlikte menslike natuur van Christus in die hemel is en nie as sodanig in die nagmaal teenwoordig kan wees nie. As hy sê dat Christus werklik in die nagmaal teenwoordig is, dan bedoel hy Christus as Persoon. Die lewende, verheerlikte Middelaar is by ons in die nagmaal. Hy sélf is by ons as die vleesgewordene, die gekruisigde en opgewekte, in Sy eie Persoon. Die wyse waarop Hy by ons teenwoordig is, is egter nie ‘n fisiek-liggaamlike nie, maar ‘n geestelike teenwoordigheid.
Daarmee bedoel Calvyn veel meer as wanneer Hy sou sê dat dit tans net die Heilige Gees is waf by ons teenwoordig is, asof die Gees Christus vervang. Nee: Christus is self teenwoordig. Al is Hy teenwoordig deur die Gees, is dit nogtans Hy self wat teenwoordig is. En al is Hy op die wyse van sy Godheid aanwesig deur die Gees, is Hy nogtans as die vleesgewordene by ons teenwoordig. Sy persoon is immers sedert die vleeswording nie meer los te maak van die vleeswording nie. Sy persoon is die Persoon van die God-mens, die Middelaar. Wanneer Hy dus in Persoon by ons teenwoordig is, is ook sy liggaam en bloed, ja sy hele mensheid deur sy Godheid by ons aanwesig. Ons het daarom in die nagmaal, kan Calvyn sê, gemeenskap met die ware liggaam en bloed van Christus wat vir ons tot spys en drank word, omdat ons deur die geloof met Christus self gemeenskap het. Dit is ‘n geestelike gemeenskap met die liggaam en bloed van Christus, nie ‘n vleeslike eet en drink nie. Maar dit is daarom nie minder werklik nie.
Deur die krag van die Gees, sê Calvyn, maak Christus ons deelgenote van sy lewendmakende vlees en daardeur word ons gevoed tot die ewige lewe. Ons groei werklik met Christus saam tot één vlees. Die geheimenis van ons eenwording met Christus gaan ons verstand te bowe, maar één ding staan op grond van die Skrif vas: dit is ‘n eenheid nie net met die Gees van Christus nie, maar ook met sy menslike natuur, met sy vlees (vgl. Joh. 6; 1 Kor. 10:16; Ef. 5:30).
Die aangrypende aspek van Calvyn se opvattings is nou egter dat hy van oortuiging is dat die wyse waarop Christus in die nagmaal by ons teenwoordig is en Homself aan ons gee, nie verskil van die wyse waarop Christus altyd en by alle geleenthede by ons teenwoordig is nie. Vir Rome en ook vir die Lutherane is Christus in die nagmaal anders by ons in ons binnekamer, want hulle verbind ‘n besondere wyse van teenwoordiging van Christus aan die fisiese tekens van brood en wyn. Dit is egter nie die geval met Calvyn nie. Vir Calvyn is Christus altyd só by ons teenwoordig as in die nagmaal.
Die betekenis van die nagmaal is egter dat dit die pand en versekering aan ons wil bied dat Christus altyd só by ons teenwoordig is. Dit beeld vir ons Christus se teenwoordigheid af en verseker ons daarvan dat dit vir ons bedoel is. Dit is daarom ’n betekenisvolle geleentheid van gemeenskapsoefening met Christus waardeur die sin en betekenis van Sy teenwoordigheid by ons ook buite die nagmaal opnuut aan ons geopenbaar en bevestig word. Dit is ‘n geloofsoefening en ‘n versterking in die geloof. Maar dit wys ons uiteindelik ook weer weg van die nagmaal na die gewone lewe: óók daar, ja juis daar, het ons Christus altyd by ons, tot aan die voleinding van die wêreld.
Daar is geen dag, geen plek, geen minuut waarin ons nie die praesentia realis, die werklike teenwoordigheid van Christus by ons kan smaak en met Hom as Persoon gemeenskap kan hê nie.