HEMELVAART – 1981
Feesdiens, Pretoria
Lees: Psalm 46 en Romeine 8:31–39
Teks: Psalm 46:2–3
Dit is ʼn groot voorreg om by hierdie feesgeleentheid by u teenwoordig te wees en te deel in vreugde. Ek het gekom om saam met u bly te wees bly daaroor dat ons vandag die eeufees kan vier van die Sendingwerk van die Transvaalse Kerk; dat ons met blydskap terug kan kyk oor die honderd jaar van die bestaan van die Ned Geref Sendingkerk ’n kerk in hierdie tyd vir honderdduisende mense tot ’n seën was en dit nog steeds is; en dat ons vandag so saam kan wees as lidmate van vier kerke uit die familie van die Ned Geref Kerk. Wat ’n vreugde is dit reeds op sigself, dat dit moontlik is. Wat ’n blydskap om mekaar te sien en met mekaar te mag verkeer by hierdie heuglike geleentheid!
Juis omdat dit ’n geleentheid van vreugde is, het ek vir u ’n woord van blydskap gebring vir vandag, ’n woord van versekering, hoop en bemoediging. Dit is die woord van Psalm 46:2–3: “God is vir ons ’n toevlug en sterkte; as hulp in benoudhede is Hy in hoë mate beproef. Daarom sal ons nie vrees nie, al waggel die aarde en al wankel die berge weg in die hart van die see”. In my soeke na ’n boodskap vir hierdie dag kon ek geen beter woord vind as juis hierdie een nie, en ek bring dit na u met die bede dat die Here deur sy Gees dit op ons almal se hart sal bind tot ons troos, bemoediging en versterking vir die toekoms.
Want dát ons troos, bemoediging en versterking vir die toekoms nodig het, ly geen twyfel nie. Al vier ons vandag fees en al is ons bly oor wat bereik is en oor ons samesyn, weet almal van ons tog dat die kerk ongetwyfeld in moeilike tye verkeer. Dit geld van die kerk in die hele wêreld, maar dit geld ook van die kerk in ons land. As alle tekens nie bedrieg nie, gaan ons ’n tydperk tegemoet wat vir die kerk van kritieke betekenis kan wees. Die Bybel leer ons dat die duiwel rondgaan soos ’n briesende leeu om te soek wie hy kan verslind. Die Bybel leer ons ook dat die draak die vrou wat die Seun gebaar het, bedreig en vervolg (Openbaring 12). Daarmee word die kerk van Christus bedoel. Die kerk is nooit in hierdie wêreld veilig nie. Die duiwel is voortdurend daarop uit om die kerk te probeer vernietig. Soms gebeur dit deur openlike vervolging, soos die kerk dit al dikwels beleef het, en soos daar ook vandag in die wêreld talle Christene is wat ter wille van hulle geloof vervolg word. Soms gebeur dit egter op ’n veel minder merkbare manier, deurdat die kerk in rustiger tye daartoe verlei word om ongemerk wêrelds te word sodat die verskil tussen kerk en wêreld byna uitgewis word. Soms word die kerk in tye van krisis deur strydende partye opgeëis om homself te vereenselwig met een van die twistende partye, sodat die eenheid van die kerk verbreek word en Christen teenoor Christen te staan kom. Niks is vir die duiwel groter triomf, as wanneer hy die haat en nyd, die vyandskap en liefdeloosheid wat die wêreld kenmerk, binne in die kerk kan indra, sodat die kerk sy wese as instrument van die vrede van die koninkryk van God kan verloor nie. En soms wat miskien die ergste van alles is, doen die duiwel die hoogste bod: hy probeer die evangelie self van die kerk wegneem. Wanneer hy daarin kan slaag om die evangelie self te verduister, sodat die kerk op die ou end nie meer weet wat die evangelie werklik beteken nie, sny die duiwel natuurlik die lewensaar van die kerk af.
Al hierdie gevare omring ook vandag die kerke. Terwyl ons hier feesvier, is hierdie gevare nie maar denkbeeldige dinge vir ons nie. Ook die Sendingkerk wat vandag by ’n mylpaal in sy geskiedenis staan, moet weet dat hy van alle kante, van buite en van binne bedreig word. Dit geld egter nie net van die Sendingkerk nie; dit geld ons almal. As ons nie op ons hoede is nie, kan ons deur die vreemde verleiding van die bose weggetrek word van die lewende verbintenis met God deur die Heilige Gees. Ons kan verwêreldlik. Ons kan die evangelie verloor. Ons kan die vrug van die Gees kwytraak. Ons kan aangepas en gelykgeskakel word met die wêreld: die één groep in die kerk op hierdie manier, en die ander groep op daardie manier, maar hoe dan ook, altyd loop dit daarop uit dat die kerk in sy hart aangetas word. Die kerk verkeer altyd in ’n bedreigde situasie.
Maar juis omdat dit só is, het ek vandag na u gekom met ’n woord van versekering, hoop en bemoediging. Ek kom na u om aan u te kom sê dat ek glo en daarvan oortuig is dat die bedreiginge waarvan ons op hierdie oomblik bewus is en ook dié waarvan ons nie bewus is nie, nie daarin sal slaag om die kerk van Christus wat ons hier verteenwoordig, te vernietig of heeltemal met die wêreld gelyk te skakel nie. Dit sê ek nie omdat ek meen dat ons sulke goeie Christene is, of so standvastig is nie. Ek sê dit in die geloof, soos Paulus dit aangaande die Filippense in die geloof kon sê dat hy God elke keer dank as hy aan hulle dink, “omdat ek juis hierop vertrou, dat Hy wat ’n goeie werk in julle begin het, dit sal voleindig tot op die dag van Jesus Christus” (Filippense 1:6). Ek sê dit, omdat ek meen dat die Bybel ons die reg daartoe gee om dit te sê. Dit gaan immers in die onvernietigbaarheid van die kerk uiteindelik nie om die eie krag van die kerk nie, maar om Gods trou. En solank Gods trou daar is, solank Gods verbond stand hou, solank Gods raadsplan nie aangetas kan word nie, só lank mag ons as gelowiges roem in die onvernietigbaarheid van die kerk, watter gevare daar ook al mag dreig.
Presies dit is wat Psalm 46 vir ons wil sê. Hierdie Psalm is ’n mooi voorbeeld van die geloofsroem en die geloofsjubel wat ons in die Ou Testament so dikwels hoor opklink, juis wanneer die volk van God in ’n posisie van bedreiging verkeer het. Die digter van hierdie lied het ’n mooi vorm vir sy geloofsroem gekies. Dit is ’n gedig met drie strofes, en elke keer eindig dit met dieselfde keervers, wat waarskynlik agter vers 4 weggeval het en dus daar ingelees moet word: “Die Here van die leërskare is met ons; die God van Jakob is ’n rotsvesting vir ons”. Binne hierdie drie verse stapel die digter die beelde op mekaar om duidelik te maak hoe vas, hoe onwankelbaar, hoe onvernietigbaar die verbond van God is, en hoe daarom juis ook die volk van God en die stad van God onvernietigbaar is. God is ’n toevlug, ’n beskerming, ’n rotsvesting. Omdat Hy te midde van sy volk woon, kan hulle nie ondergaan nie. Sy stad, sy koninkryk, kan nie vernietig word nie, want: “God is daar binne-in; dit sal nie wankel nie”. Hierdie geloofsroem van Psalm 46 is ’n hoogtepunt in die Psalmbundel, vergelykbaar met Romeine 8:31–39 in die Nuwe Testament.
Ook in Romeine 8 vind ons die triomflied van die geloof. Ook daar vind ons, soos hier, dat die magte en kragte van vernietiging uitgedaag word in die geloof. In albei liedere is daar die diepe bewustheid van die gevare wat rondom dreig. Die Israeliete was baie bewus van die groot mag wat rondom die aarde wil toevou. Wanneer in Psalm 46 so gepraat word oor die waters wat bruis en skuim oor die see wat so onstuimig is, dan moet ons onthou dat die see vir die Jode die simbool was van die duistere magte van chaos en vernietiging wat altyd naby is. Ons Psalm praat dan ook van nasies wat raas en koninkryke wat wankel. Netso praat Paulus in Romeine 8 van die bedreigende magte van verdrukking en vervolging, van benoudheid en honger, van gevaar en swaard, van lewe en dood. In sowel Psalm 46 as Romeine 8 is daar genoeg dinge wat mens tot vrees en angs kan dryf. En hoe sou ons dit nie ook ken nie? Is die angs nie baie naby aan ons almal nie? Sien ons nie genoeg dinge wat met ons in die toekoms, ja selfs elke dag kan gebeur, wat die chaos oor ons lewe kan laat inbreek en dit donker kan laat word nie? Is daar nie elke dag duisende dinge wat in ons persoonlike lewe kan gebeur wat min of meer die bodem onder ons voete kan wegtrek nie? En is daar nie ook duisende dinge wat met ons as gemeenskap kan gebeur, wat ons as kerke in die diepste angs en sorg en lyding sal stort nie? Die bruisende, woedende see, die “owerhede en magte, teenwoordige en toekomstige dinge” waarvan Paulus praat – die dieptes van die lewe en die dood, kan oor ons losbreek.
Maar: dit alles kan ons nie vrnietig nie Dit is wat Psalm 46 en Romeine 8 ons wil leer. In albei hierdie liedere gaan dit selfs om ’n uitdaging: Laat dinge maar kom! Laat kom wat wil, ons sal nie wankel nie. Ons sal nie vrees nie, want God is met ons. Teenoor die donkerte in al sy moontlike gestaltes hou die Bybel daaraan vas dat God ons nie sal laat los nie. Paulus durf selfs te roem teen die oordeel. Laat selfs die oordeelsdag maar kom. Selfs dáár sal ons bly staan, want Christus is dit wat gesterf het, ja meer nog, wat ook opgewek is, wat ook aan die regterhand van God is, wat ook vir ons intree. Die geloof verberg nie sy oë vir die gevare nie, maar die geloof is moedig teenoor gevare. Die geloof is soos die klein Dawid wat die magtige Goliat aanpak in die Naam van God. Daarom kan die geloof roem teenoor die donkerte en die chaos en selfs teenoor die magte van die duiwel.
En die geloof doen dit nie sonder grond nie. Die geloof het sy redes waarom hy so manmoedig kan praat. Sy grond is die ervaring wat die kerk deur die eeue met God gehad het, of anders gesê: sy grond is die openbaring van God aan sy kerk deur die eeue, waarin Hy Homself as die Getroue bewys het. Daarom word hier ook oor God gespreek as die God van die verbond: die God van Jakob is ’n rotsvesting vir ons. Die Psalmdigter dink aan die hele lang geskiedenis van Gods openbaring aan die aartsvaders en geskiedenis met Israel. Daarom kan hy sê: As hulp in benoudhede is Hy in hoë mate beproef. Paulus kan dit nog helderder sê. Hy stel geloofsjubel aan die einde van ’n gedeelte in sy brief waarin hy opgenoem het wat God alles in Christus gedoen het om ons te verlos. As God selfs eie Seun nie gespaar het nie, redeneer Paulus, hoe kan Hy ons dan prysgee? In ’n stygende lyn praat hy oor die dood, die opstanding en die hemelvaart van Christus, ja ook van sy voorbede vir ons waar Hy aan die regterhand van die Vader is, en hy vra: Wie sal teen ons wees? God het Homself te duidelik geopenbaar. Ons kan nie, ons mag nie daaraan twyfel dat hy ons persoonlik en sy gemeente op aarde sal bewaar nie.
Daarom wil hierdie liedere ons dapper maak. ’n Christen moet nie ’n lafaard wees nie, maar ’n moedige mens, ’n dapper mens. Vir ons persoonlike lewe beteken dit dat ons ons nie deur smart of teenspoed mag laat onderkry nie. Hebreërs 12:5 sê dan ook duidelik dat ons nie moet beswyk as ons deur God gekasty word nie. Met elkeen van ons kan elke dag verskriklike dinge gebeur, maar ons mag nie daarom rondloop met ’n stuk ondraaglike angs en spanning nie. Ons moet dapper genoeg wees om die lewe uit te daag, nie omdat onsself so sterk is nie, maar omdat God so sterk is. Maar ook in ons kerklike lewe moet ons moedig en dapper wees, moet ons geloofsrus hê. Ons moenie daarvoor bang wees dat die kerk klaarblyklik ’n kritieke tyd tegemoet gaan nie, want God sal sy kerk staande hou. Die kerk is nie ons saak nie. Dit is God se saak. Dikwels meen ons in ons bekommernis oor die kerk dat ons dit moet beskerm, verdedig en orent hou. Dit is egter nie nodig nie. “Laat staan en weet dat Ek God is”. God sal sy saak in die wêreld hanteer.
Miskien moet ek hier egter ’n woord van waarskuwing laat hoor. Hierdie geloofsroem is werklik geloofsroem. Dit is nie vleeslike roem nie. Dit is dus net bedoel vir diegene wat werklik aan Christus verbonde is. Dit gaan in Psalm 46 om Gods uitverkore volk, en Paulus praat baie duidelik daarvan dat niemand ’n beskuldiging sal kan inbring teen die uitverkorenes van God nie (Romeine 8:33). ’n Mens mag jou nooit ligvaardig op hierdie troos van die Bybel beroep nie. God kan nie voor ons eie karretjie gespan word nie. Israel self het dit ondervind, dat mens nie ver van God kan afdwaal en sy woord verwerp en dan meen die Here sal jou beskerm, net omdat jy uitroep: Die Here se tempel, die Here se tempel, die Here se tempel is dit nie (Jeremia 7:4). Ons het geen belofte in die Bybel dat God die dinge sal maak of sal hou soos ons dit graag wil hê nie. Daar is baie mense wat hulleself met die naam van die kerk dek, wat nie werklik kerk van Christus is nie. Vir dié mense het die Bybel nie ’n belofte nie. Wie homself ligvaardig beroep op hierdie tekste, of wie meen dat hy verdien om deur God bewaar te word omdat hy so goed of godsdienstig is, vergeet dat dit in die beloftes van die Bybel nie gaan om ons saak nie, maar om God se saak. In sover ons by God se saak hoort, sal Hy ons bewaar en is ons veilig vir tyd en ewigheid, selfs al moet ons soms deur die donkerste dinge gaan of selfs in die dood ingaan soos Johannes die Doper. Maar as ons meen dat God daar is om vir ons saak te stry, maak ons ’n groot denkfout. Die Bybel is baie duidelik daaroor dat dit vir God oor sy eie saak gaan. Sê Psalm 23 nie dat God ons in die spore van geregtigheid lei “om sy Naam ontwil” nie? En sê Esegiël 36:22 ev nie glashelder dat God Israel sal herstel, nie om Israel se ontwil nie, maar om sy Naam ontwil wat deur Israel ontheilig is onder die nasies? Daarom kan ons ook daarvan seker wees dat God sy Ryk, sy kerk, sy saak in die wêreld, sy volk, sy uitverkorenes – nooit verlore sal laat gaan nie. Maar wie hierdie soort belofte van God ligvaardig vir homself wil toeëien, sal bedroë daarvan afkom.
Psalm 46 en Romeine 8, wil ons leer om ons vreugde daarin te soek dat dit met God se saak in die wêreld goed sal gaan. Dit wil ons vrolik maak daaroor dat God die Oorwinnaar is oor dood en hel, oor chaos en duisternis, oor lyding en aanvegting. En vir sover ons by dié saak van God betrokke is, wil dit ons bly maak, omdat dit aan ons die versekering gee dat ons nie kan verloor nie, omdat daar uiteindelik niks in die hemel of op die aarde, in die hede of in die toekoms is, wat ons sal kan skei van die liefde van God wat daar in Christus Jesus is nie!