’n Bede vir die jaar

’n BEDE VIR DIE JAAR
Die Burger, 3 Januarie 1981, bladsy 8

Dit is natuurlik dat ’n mens in die begin van die jaar ’n hele aantal wense en begeertes het wat jy in gebed voor God wil bring. Sommige daarvan is baie persoonlik, omdat dit te make het met onsself of met ons kinders of ons huwelik. Andere omvat die wyer veld van ons volk en gemeenskappe.

Miskien is dit gepas dat ons in hierdie rubriek ook iets sal sê oor ons gebed vir die Christene in ons land vir hierdie jaar. Ook die Christene is een groot gesin. Ook vir hulle mag ons dus besondere wense en begeertes vir hierdie komende jaar hê.

As die tekens nie bedrieg nie, sal dit vir ons vanjaar seker nie ’n makliker jaar wees as verlede jaar nie. Daar is groot politieke vraagstukke in ons land wat om oplossings vra. Daar is spanning tussen die verskillende bevolkingsgroepe en hulle wense staan dikwels teenoor mekaar. Daar is internasionale druk op ons land en daar is allerlei vorms van onsekerheid oor die toekoms. Niemand van ons kan voorspel wat binne die loop van één jaar alles met ons en onder ons kan gebeur nie.

As Christene is ons ten nouste by al hierdie dinge betrokke. Ook al sou ons wil, kan ons ons nie daarvan losmaak nie. Ons sal eenvoudig in verband met die dinge wat vanjaar in ons land gebeur, ’n rol moet speel. Die rol word óók gespeel as ’n mens net passief toekyk. En die rol wat ons noodwendig gaan speel, kan negatief of positief wees.

Ons rol sal positief wees as ons mense is wat in die gees en gesindheid van Jesus Christus met ons medemense verkeer. Dit is nie altyd maklik nie. Maar as ons werklik erns maak met ons belydenis van die koningskap van Christus, sal ons ook in hierdie jaar die sout van die aarde en die lig van die wêreld moet wees. Ons sal die moed moet hê om ’n getuienis te lewer, al beteken dit soms ook dat mense ons misverstaan. Dit is so maklik om ’n Christen verkeerd te begryp. Hy is immers op grond van sy Christenskap meermale verplig om teen die populêre mening in te gaan, en dit kan beteken dat hy misverstaan word – asof daar iets met sy liefde vir en lojaliteit teenoor sy eie mense skeefgeloop het. Dit geld vir Christene van alle bevolkingsgroepe in ons land.

Maar Christene moet bereid wees om met die nodige liefde en geduld hul getuienis te bly lewer, selfs al word hulle misverstaan. As ’n mens opreg is, sal mense tog na jou luister – indien nie vandag nie, dan tog môre. As God ons seën sal dit moontlik word dat ’n gesindheid van versoening, van wedersydse agting van mens teenoor mens, van bereidheid om mekaar te verstaan en van gewilligheid om mekaar te aanvaar, sterker in ons land gevestig word deur ons houding sowel as ons getuienis.

Dit is dan ons bede vir die Christene van ons land in hierdie jaar: dat hulle gekenmerk sal word deur die gesindheid van Christus en dat hulle die moed sal hê om daarvan te getuig. – WDJ