DIE EEN NIE SONDER DIE ANDER
Die Burger, 17 Januarie 1981, bladsy 8
Dit bly aangrypend dat Jesus ons in die Onse Vader geleer het om te bid: Vergeef ons ons skulde, soos ons ook ons skuldenaars vergewe. In hierdie bede word die vergiffenis van ons sonde wat ons van God vra, direk verbind aan ons bereidheid om ook diegene te vergewe wat iets teen ons verkeerd gedoen het.
Natuurlik word nie daarmee bedoel dat ons die vergiffenis van ons sondes by God verdien deurdat ons andere die dinge vergewe wat hulle aan ons gedoen het nie. Dit sou op werkgeregtigheid neerkom, wat in stryd is met die hele boodskap van die Bybel. Wat egter wel daarmee bedoel word, is dat die twee dinge onlosmaaklik aan mekaar verbonde is: my begeerte dat my sondes vergewe moet word en my bereidheid om andere te vergewe wat hulle verkeerd gedoen het.
Daarmee wil Christus ons leer dat die egte begeerte na die vergiffenis van ons sondes slegs aanwesig kan wees in ’n hart wat berouvol en verbrysel is. Maar wanneer ’n mens se hart werklik in skuldbesef voor God verbrysel is, is daar nie in so ’n hart meer plek vir gevoelens van wraak, vergelding of onvergewensgesindheid teenoor ons medemense nie. Indien sulke gevoelens nog in ons harte bestaan, is ons nog nie werklik bewus van die diepte van ons eie sonde nie en is ons gebed om vergiffenis ’n ydele herhaling van woorde wat nie werklik bedoel word nie. En dus ook nie deur God beantwoord word nie.
Daarom gaan die twee dinge onverbreekbaar saam: vergiffenis deur God en vergiffenis deur ons. Dit werk nie in die koninkryk van God so dat ’n mens met God versoen kan wees as jy jou nie met jou naaste wil versoen nie. ’n Mens kan nie voor God kom sonder jou naaste nie. As jy jou gawe na die altaar bring, sê Jesus, en dit jou daar byval dat jou broeder iets teen jou het, laat dan eers jou gawe daar staan, gaan versoen jou met jou broer, en kom bring dan jou gawe (Matteus 5:23–24).
Wanneer ons die volle implikasies van hierdie woorde verstaan, moet dit vir ons duidelik wees dat daar nie so iets kan wees as ’n verhouding met God wat geïsoleerd is van ons verhouding met ons medemense nie. Wie tog probeer om ’n kerk te hê waarin hy meen hy hom met God besig hou en op die soenbloed van Christus bou, terwyl hy ’n medebroeder van hom verag en selfs weier om saam met hom voor die aangesig van God te verskyn, moet tyd daarvoor afsonder om sy posisie voor God te oorweeg. ’n Mens kan nie God wil hê sonder jou broeder nie. Die keuse is eenvoudig, maar dit is Gods keuse waarvoor Hy ons stel.
Die Christelike geloof is ’n baie praktiese saak. Dit gryp in in die totaliteit van ons lewe. Dit is nie maar ’n aantal self uitgesoekte beginsels wat ons aanhang nie. Dit verbrysel werklik ons vlees. Maar daarom het Jesus ons ook gewaarsku dat wie agter Hom aan wil kom, homself sal moet kruisig. – WDJ