Dit was so onverwags

DIT WAS SO ONVERWAGS
Die Burger, 31 Januarie 1981, bladsy 12

Wat sal ’n mens tog sê in verband met die skokkende vloedramp van verlede Sondag by Laingsburg en elders? By die aanblik van soveel leed, vernietiging en skade, staan ’n mens verbysterd. Kan dit alles werklik waar wees? Duisende dinge flits deur ’n mens se gedagtes oor die angs wat deurgestaan is, die naamlose droefheid by die agtergeblewenes, die verslaenheid by diegene wat alles verloor het, die pynlike proses van weer opstaan en aanpassings wat voorlê – en die kwelling van die waarom-vraag wat so moeilik in die hart gaan lê.

In hierdie stadium is daar egter een ding wat ’n geweldige indruk maak op ons wat van buite af daarna kyk. Dit is die onverwagsheid daarvan. Dit het so skielik gebeur, so sonder waarskuwing. Ek stel my voor dat dit vir baie mense daar ’n dag soos ander dae was. Dit was ’n Sondag en dit was kerk toe gaan, tee drink en eet. Daar was die bietjie rustigheid van saamwees van die Sondag. Daar was die vooruitsigte en verwagtinge van wat gedoen moes word vanaand en môreoggend in hierdie week.

Die dominee sal die oggend gepreek het met die verwagting dat hy dit die aand weer sou doen. Miskien was die aand se preek al klaar voorberei. Alles was soos gewoonlik, waarby niemand rekening hou met die onverwagte en ongedagte, met die dood en die skielike beëindiging van ’n vertroude en ’n bekende wyse van bestaan nie.

En toe stort die lewe net meteens rondom hulle almal in duie.

Onvoorstelbaar vir wie buite staan.

Vir ’n lang tyd ook onmoontlik verwerkbaar deur diegene wat dit meegemaak het en dit oorleef het. Wanneer ons wat buite staan, al weer tot die orde van ons daaglikse lewe oorgegaan het en ons bewussyn al weer deur ander dinge in beslag geneem word, sal die skrik en die ontsetting nog in hulle aanwesig wees en sal die werklike omvang van hulle verliese eers langsamerhand tot hulle deurdring. Aan ons gebed sal hulle behoefte hê, ook as die eerste tyd verby is en ’n deel van die fisieke skade herstel is.

Vir ons almal hou hierdie gebeurtenis egter ’n geweldige les in wat ons nie mag veronagsaam nie. Dit is die les van die broosheid en die breekbaarheid van ons lewe en van die skynbare sekuriteite waarop ons onsself so dikwels verlaat. Dit kan in ’n kwartier onder ’n mens verkrummel. Wee hom wat niks meer as dit het om by te lewe nie.

En die lewe self? Ook dit kan in ’n oomblik van ons weggeneem word. Voordat ’n mens besef wat gebeur, kan jy oor die grens wees en voor God staan. Teoreties weet ons dit almal, maar hier is dit ’n keer voor ons oë gedemonstreer. Niemand mag dink dat hy baie tyd het om met God vrede te maak nie. Ons weet nie of ons nog tyd het nie. Die laaste uur kan vandag wees. – WDJ