TEORIE EN PRAKTYK
Die Burger, 7 Februarie 1981, bladsy 8
Dit gebeur dikwels dat mense van die praktyk met ’n neerhalende opmerking na akademici verwys as mense van die teorie wat agter hulle lessenaars sit en niks van die werklike lewe weet nie.
Die indruk wat gewek word, is dat dit die manne van die praktyk is wat werklik weet waarom dit gaan, en dat ons van hulle die antwoorde op ons vrae moet verwag. Daarteenoor sou dit onwys, ja selfs gevaarlik kan wees om jou ore uit te leen vir die teoretici wat met hulle kop in die wolke loop en alle dinge op ’n abstrakte wyse benader.
’n Mens kan seker nie ontken dat wetenskaplikes, akademici en teoretici dikwels die kluts kwyt kan wees nie. Dit is ook waar dat ’n mens met gesonde verstand dikwels intuïtief ’n gelukkige greep in die praktyk kan maak en ’n insig kan openbaar wat vir ’n teoretikus verrassend kan wees. Tog sou dit verkeerd wees om te veralgemeen en te dink dat dit altyd die geval is dat mense van die praktyk beter weet wat aangaan en dus ’n beter oplossing vir probleme aan die hand kan doen as die teoretikus.
Die geskiedenis bewys dat dit nie waar is nie. Die beste boerderymetodes word tog nie deur ’n boer op die land ontdek nie, maar deur die landboukundige met sy teoretiese studie van die dinge waarmee die boer werk. Al die ontwikkelinge van die moderne tegniek is die vrug van wetenskaplike navorsing, wat op sy beurt weer teruggaan op wendinge in die wysgerige denke (wat heeltemal abstrak lyk) en in die laaste instansie verband hou met hoogs teoretiese beslissings wat in die eensame denke van enkele figure in die geskiedenis van die mensheid geval het.
Die man van die praktyk weet nie eens dat hy in sy praktyk deurslaggewend beïnvloed word deur wat teoretici vir hom voorgedink het nie. Sy wrewel teen die teoretici as groep hang eenvoudig daarmee saam dat hy homself vaslê op ’n vroeëre stadium van teoretiese denke en bevrees is dat daarvan afgewyk word.
Die belang van diep-borende teoretiese denke mag nie onderskat word nie. Die wêreldgeskiedenis word beslis – nie deur die praktyk nie – maar deur idees. Idees werk bevrydend of vernietigend.
Martin Luther was ’n eensame monnik in ’n kloostersel, maar sy insig in ’n Bybelteks het die Reformasie tot stand laat kom. Karl Marx was ’n eensame denker in Londen, maar sy idees gaan ’n verwoestende gang deur die wêreld. Die stryd tussen lig en duisternis lê in groot mate op die vlak van die idees. Die geskiedenis bewys dat die praktyk altyd weer die teorie volg, selfs al is dit waar dat die teorie gebore word uit kontak met en worsteling met die vrae van die praktyk.
Dit is noodsaaklik dat ons veel meer moet bid vir ons universiteite en inrigtings vir hoër onderwys, vir ons dosente en studente. In ’n reële sin word die toekoms van kerk en volk beslis deur wat op die vlak van die denke gebeur. – WDJ