Die regte gesigspunt

Die Burger, 14 Februarie 1981, bladsy 8
DIE REGTE GESIGSPUNT

Om met God te wandel is ’n blywende leerskool. As ’n mens jouself ’n Christen noem en met dankbaarheid bely dat jy glo in die evangelie van Gods verlossende genade, beteken dit nog lank nie dat jy in jouself reeds beantwoord aan wat ’n Christen behoort te wees nie. Inteendeel, juis as Christen ontdek ’n mens hoe langer hoe meer jou eie tekortkominge en die weerstand van jou hart teen volkome gehoorsaamheid aan die wil van God. Daarom is die Christelike lewe ook ’n lewe van stryd waarin ons ou geaardheid afgesterf moet word en die nuwe mens in ons moet opstaan.

Een van die punte waarop die stryd telkens weer in ons gevoer moet word, is om ons lewe vanuit die regte gesigspunt te bekyk. Dit is die gesigspunt van die geloof wat erns maak met die eise en beloftes van Gods Woord.

Die natuurlike neiging van ons hart is om ons lewe uit die gesigshoek van eiebelang te beskou. Dan gaan ons uit van die konkrete situasie waarin ons onsself bevind en probeer die situasie hanteer op sodanige wyse dat onsself die beste daarvan kan afkom. Al ons aandag is gekonsentreer op onsself en die wyse waarop ons moet optree om ons eie lewe te red, om vir onsself die beste posisie te beding en om ons eie saak te behartig tot die grootste moontlike voordeel vir onsself.

Hierdie wyse van benadering van die lewe is egter vir ’n Christen nie goed genoeg nie. Alle mense tree immers só op. Dit is kenmerkend van die mens wat sy lewe nie uit die gesigspunt van die Bybel nie, maar uit die gesigspunt van die natuurlike drange van sy hart benader.

’n Christen kan nie vanuit presies dieselfde gesigspunt lewe, en dan meen dat hy ’n Christen is omdat hy God se hulp inroep om hom te help – daarby om sy eie doeleindes op ’n suksesvolle wyse na te jaag nie. Hy moet in die leerskool van Gods genade leer om die gesigspunt waaruit hy sy lewe en sy omstandighede benader, uit die Bybel te ontvang. Hy moet leer om te vra: Wat wil God van my in hierdie situasie hê en van my maak? en nie: Wat wil ek self in hierdie situasie graag hê, en hoe kan ek God beweeg om met mý planne in te val nie.

Dit is sulke elementêre dinge, dat elke Christen dit weet. Maar dit is verskriklik moeilik om dit in die praktyk ook werklik só uit te leef. Ons bid almal in die Onse Vader: Laat U wil geskied. Maar in die praktyk van ons lewe vra ons meesal nie eers wat die wil van God is voordat ons ons planne maak nie, en dan kom ons gebede dikwels daarop neer dat ons vra: Laat my wil geskied.

As ons maar net kan leer om ons lewe onder die gesigspunt van die Koninkryk van God te beskou; as ons maar bereid kan word om onsself tot beskikking van God te stel, soos die apostel Paulus in Romeine 6 sê, dan sal ons in voorspoed en teenspoed, in vreugde en leed, in nood en dood vra dat God in alles wat met ons gebeur, Sy Naam sal verheerlik. – WDJ