AS DIT ONS PAS
Die Burger, 28 Februarie 1981, bladsy 8
Min mense wat hulself Christene noem, sal openlik sê dat die Bybel vir hulle geen gesag het nie. Daar bestaan egter by almal van ons ’n neiging om die gesag van die Bybel net te erken vir sover dit ons pas. Dit beteken dat ons selektief met die Bybel omgaan. Bepaalde dinge wat die Bybel sê, word deur ons aanvaar en verkondig. Andere laat ons egter rustig by ons verbygaan, net so goed asof dit nie in die Bybel staan nie.
Die ergste is dat ’n mens hierdie verskynsel nie net aantref by mense wat betreklik onverskillig staan teenoor godsdiens en kerk nie. Dit kom net so goed voor by mense wat dit klaarblyklik baie opreg bedoel met hul godsdiens. Soms kan hulle selfs baie vroom wees.
Dat Christus vir ons sondes gesterf het, dat Hy opgestaan het tot ons regverdiging, dat die Gees uitgestort is om in ons te woon en te werk, dat God van ons vra om in getrouheid aan sy wet te wandel – dit is dinge wat hulle van harte glo en aanvaar. Vir hulle eie besef is hulle ook gehoorsaam aan wat die Woord van God van hulle vra. En tog: oor bepaalde dinge praat ’n mens verniet met hulle. Jy wys hulle verniet wat die Bybel in ronde woorde daaroor sê. Dit rol van hulle af soos water van ’n eend se rug. Wat dit betref, het die Bybel vir hulle geen gesag nie.
Hoe moet ’n mens dit tog verklaar? Die antwoord is nie ver te soek nie. ’n Mens moet maar tot jouself inkeer en jouself ondersoek, en jy sal vind dat dieselfde neiging ook in jou eie hart bestaan. Ons lewe immers nog nie in die volmaaktheid nie, maar in die tyd duskant die graf waarin die lewe van Gods kinders in so baie opsigte innerlik verdeeld is. Die Gees stry teen die vlees en die vlees teen die Gees, sê Paulus.
So dikwels is ons gewete op bepaalde punte ongevoelig. Ons doen die een ding wat God vra, maar laat die ander na. Ons het so dikwels ’n blinde kol. Wat ons met die een hand gee, neem ons met die ander weer terug.
Dit is omdat ons heiligmaking so gebrekkig is dat ons so maklik bepaalde gebiede van ons lewe aan die gesag van die Bybel kan onttrek. Meesal gaan dit daarby om gebiede wat vir ons vlees besonder belangrik is. Dit skerm ons af van die lig van die Bybel. Ons is besonder gevoelig daaroor. Niemand moet met ons daaroor lol nie. Niemand moet ons juis op daardie seerplek kom druk nie. Dan word ons maklik kwaad. Want dit pas ons nie dat iemand met ons lol oor dinge waarvan ons onsself nie wil bekeer nie.
Net die Gees van God kan ’n mens se oë oopmaak vir die dinge in jou lewe wat jy so sorgvuldig aan die gesag van die Woord wil onttrek. Wanneer ’n mens sover gebring word deur die Gees dat hy bereid is om werklik alles, maar dan ook letterlik alles, in sy lewe aan die gesag van Gods Woord te onderwerp, is hy eers op die punt waar God ons graag wil hê. – WDJ