HOE WEET ONS DIT?
Die Burger, 7 Maart 1981, bladsy 8
Daar is ’n groot verskil in die wyse waarop ons seker is van aardse en van geestelike dinge. Oor aardse dinge kry ons sekerheid deurdat ons kan sien en kan bewys dat dinge waar is, of deurdat ons in elk geval genoeg kan sien en genoeg kan bewys om te kan glo dat iets waar is. Maar in die geestelike dinge werk dit anders. Daarvan sê Jesus selfs vir Thomas dat ’n mens salig is as jy nie sien nie, en tog glo. En Paulus sê dat ons deur geloof wandel en nie deur aanskouing nie. Die geloof bestaan daarin, sê die Hebreër-brief, dat ’n mens wandel asof hy die onsienlike sien.
Een van ons grootste probleme is dat ons ook op die geestelike terrein so graag wil sien voordat ons glo. Hierdie “sien” bestaan dan vir ons daarin dat ons bepaalde dinge wil ervaar, dat ons wil sê bepaalde dinge moet met ons gebeur voordat ons wil glo. In plaas daarvan dat ons God op sy woord neem, vra ons van Hom om ons eers sekere ervaringe te laat meemaak voordat ons bereid is om te glo dat sy Woord waar is.
Dit is een van die redes waarom ’n ervaring-gerigte, entoesiastiese vorm van godsdiens vir baie mense so aantreklik is. Dit voorsien vir hulle in die behoefte om eers te sien en dan te glo. Dit verstrek vir hulle ’n ervaringsbasis vir hulle geloofsekerheid.
As jy hulle vra hóe hulle weet dat hulle kinders van God is of dat die Heilige Gees in hul woon, verwys hulle jou nie na die geloftes van God in sy Woord nie, maar na een of meer ervaringe wat hulle gehad het. Toe dit of dat met hulle gebeur het, toe het hulle geweet. En laat ons maar eerlik wees: ons almal is eintlik só ingestel. Ons wil soos Thomas eers voel en tas voordat ons glo.
Natuurlik is ervaring belangrik in ons godsdienstige lewe. Maar ervaring mag nooit die grond van ons sekerheid word nie. Dan ontstaan die posisie dat ons geloof op ons ervaring rus. Die geloof kan egter nie op ervaring rus nie, want daarvoor is ervaring veels te wisselvallig. As ons geloof op ervaring rus, veroorsaak dit groot probleme as ons ervaring wissel, en veral as dit skynbaar die beloftes van God weerspreek – iets waarvan al die heiliges in die Bybel kennis gedra het.
Geloof kan nie op ervaring gebaseer word nie, maar dit maak natuurlik ervaringe met God en sy Woord deur. Die ervaringe kan agterna daartoe dien om ons geloof te bevestig, soos byvoorbeeld die ervaring van gebedsverhoring of van vreugde of besondere ondervindinge met God.
Die grond van ons geloof is egter die Woord en beloftes van God alleen. Daaraan hou die geloof vas, teen alle dinge in en sonder enige “bewyse”.
Dat die geloof dit kan doen, is die resultaat van wat Paulus die getuienis van die Heilige Gees noem (Romeine 8:l6). Daarmee bedoel Paulus nie ’n buitengewone ervaring nie, maar die bevestiging in ons hart dat die Woord van God waar is, spesifiek sy beloftes dat ons deur Hom in Christus as kinders aangeneem is.
So rus ons sekerheid buite onsself op die vaste Woord van God. – WDJ