ONS DOEN DIESELFDE
Die Burger, 4 April 1981, bladsy 8
Wanneer ’n mens die geskiedenis van die lyding van Christus lees, kom jy diep onder die indruk van die leed wat mense Hom aangedoen het. Op allerlei maniere het hulle Hom misken, gekrenk, beledig en mishandel. In ’n matelose domheid en blindheid het hulle teenoor Hom gestaan. Hulle het sy liefde met haat beantwoord, sy goedheid met kwaad vergeld en op sy aanbod van genade met verharding gereageer.
Dit kan so maklik gebeur dat ons kan dink dat ons nie op dieselfde wyse met Hom sou gehandel het nie. Dit is bekend dat daar in die geskiedenis van die kerk talle Christene was wat ’n houding van afkeer en onversetlikheid teenoor die Jode aangeneem het, omdat hulle van mening was dat die Jode niks beter as dit verdien nie. Die Jode het Christus immers mishandel en gekruisig. Soms word selfs beweer dat dit hierdie houding van Christene was wat een van die wortels van die anti-Semitisme was.
Tog sou dit van die allergrootste wanbegrip getuig as ons sou meen dat ons anders met Jesus sou gehandel het as wat die Jode gedoen het. Dit is in meer as een opsig waar dat die Jode die mensheid as geheel representeer. Sonder enige twyfel is dit waar dat hulle ons almal verteenwoordig in ons verset teen die genade van God, in ons afkeer van sy liefde, in ons opstand teen sy gesag.
Wat hulle aan Jesus gedoen het, het hulle in naam van ons almal gedoen. As ons in hulle skoene gestaan het, sou ons presies net soos hulle gehandel het. Daar is niks te bedink wat hulle aan Jesus gedoen het wat ons nie ook sou gedoen het nie. As ons die Evangelies lees, is dit asof ons ’n verhaal oor onsself lees. Dit is so goed asof daar van ons vertel word en van ons reaksie op die genade van God.
Ons moet veral nie dink dat ons, omdat ons uit die Nuwe Testament die geskiedenis van die verwerping en kruisiging van Christus ken, beslis nie sal optree soos baie Jode gedoen het nie. Dit is waar: Christus is nie meer by ons na die vlees nie. Die geskiedenis van sy kruisiging kan dus nie letterlik herhaal word nie. Dit wil egter nie sê dat ons nie Christus telkens weer kruisig deur die wyse waarop ons met sy saak in die wêreld omgaan nie. In ons weerstand teen die Gees van God, in ons miskenning van die Woord van God, in ons hardheid van hart, staan ons niks agter by die Joodse Raad en by almal wat Jesus met smaad en veragting behandel het en Hom uiteindelik aan die kruis gespyker het nie.
Dit is moontlik dat ’n mens Christus met jou lippe kan eer, maar dat jy sy saak kan teenstaan. Dit kan gebeur dat ’n mens in jou verblinding kan meen dat jy Christus huldig, maar dat jy jouself in werklikheid opstel aan die kant van die vyande van Christus. Net God kan ons daarvan bewaar. – WDJ