VOORBIDDING
Die Burger, 2 Mei 1981, bladsy 8
Noudat die verkiesing verby is – ’n mens is geneig om te sê: gelukkig! – en ons weer na die orde van die dag terugkeer, is dit goed om opnuut daaraan te dink dat dit noodsaaklik is om voortdurend voorbidding te doen vir die owerheid.
Teoloë kan met mekaar verskil oor hoe ’n mens presies die taak van die kerk ten opsigte van die politieke lewe moet omskryf. Oor één ding kan hulle egter nie verskil nie, en dit is dat die kerk van Godsweë die roeping het om vir die owerheid te bid. Die Nuwe Testament doen nie baie uitsprake oor die verantwoordelikheid van die kerk vir die politiek nie. Daaruit kan nie afgelei word dat die kerk geen verantwoordelikheid in hierdie verband het nie. Die Woord van God gaan immers oor alles, en in die verkondiging van die wet van God en sy wil vir alle mense sal dus ook die politieke lewe voortdurend in die lig van die Skrif geplaas moet word.
Dit is egter opmerklik dat die opdrag tot voorbidding vir die owerheid ’n prominente plek inneem onder die geringe aantal uitsprake wat die Nuwe Testament wél oor die verantwoordelikheid van die kerk vir die openbare lewe en politieke lewe doen. ’n Mens dink hier maar aan die woord uit 1 Timoteus 2:1–4, waar die apostel skrywe: “In die eerste plek vermaan ek dan dat die smekinge, gebede, voorbedes en danksegginge gedoen moet word vir alle mense; vir konings en almal wat hooggeplaas is, sodat ons ’n rustige stil lewe kan lei in alle godsvrug en waardigheid. Want dit is goed en aangenaam voor God, ons Verlosser, wat dit wil hê dat alle mense gered word en tot kennis van die waarheid kom.”
Hierdie voorbidding vir die owerheid is nie afhanklik van die vraag of ’n mens met die beleid van die owerheid saamstem of nie. Toe die apostel hierdie woorde geskryf het, het die gemeente geleef onder die regering van ’n heidense owerheid wat dikwels wreed en onregverdig teenoor hulle opgetree het. Die Bybel gaan egter daarvan uit dat die owerheid as sodanig ’n instelling van God is wat ’n spesifieke taak het. Die taak is om te sorg dat die onderdane ’n rustige en stil lewe kan lei, in alle godsvrug en waardigheid. Die owerheid is geroepe om deur die bevordering van burgerlike geregtigheid sy onderdane met mekaar te versoen en só die openbare rus en vrede te bevorder.
Calvyn druk hierdie waarheid ook uit deur te sê dat die owerheid die “menslikheid” onder die mense moet bevorder. Op dié wyse skep die owerheid die burgerlike en maatskaplike grondslag vir die ontplooiing van die lewe en verkondiging van die kerk, en só dien dit die voortgang van die evangelie-verkondiging.
Wanneer die kerk dus vir die owerheid voorbidding doen, gaan dit ver uit bokant die persoonlike politieke opvattings van die lidmate van die kerk. God word gevra om aan ons ’n regverdige samelewing te gee waarin vrede en vryheid heers, tot eer van sy Naam en tot beswil van alle mense. – WDJ