WAT MOET ONS BID?
Die Burger, 9 Mei 1981, bladsy 6
Dat die kerk volgens die Nuwe Testament vir die owerheid moet bid, staan vas. Dat in die gebed van God gevra moet word om die owerheid só te lei en te regeer dat ons ’n vrye en regverdige samelewing kan hê, is ook duidelik. Ook sal daar in hoofsaak seker geen verskil wees oor wat ons met ’n vrye en regverdige samelewing bedoel nie: dit is ’n samelewing waarin aan elke mens die leefruimte gegun word waarin by as beelddraer van God tot sy reg kan kom.
Solank die kerk in algemene terme bid, kan hy sonder probleme hierdie bede voor God lê. Die probleem kom egter wanneer die kerk nie slegs in algemene terme wil en kan bid nie, maar konkreet moet begin bid. Normaalweg is dit tog vanselfsprekend dat ’n gebed konkreet moet wees. In tye van droogte bid ons om reën. In tye van siekte bid ons om genesing. Die apostel spoor ons daartoe aan om ons begeertes in alles deur gebed en smeking met danksegging by God bekend te laat word (Filippense 4:6). Hoe kan dit dan anders as dat ons ook in ons “politieke gebed” konkreet bepaalde dinge van God sal wil en mag vra?
Presies net hier gaan egter die pynlike afgrond van die verskille tussen die kerke in ons land voor ons oop. Die feitlike situasie is dat die kerke teen mekaar in bid. Terwyl dit normaal is vir die Afrikaanssprekende kerke dat daar in hulle gebid word dat die bedreiging van ’n chaos van ons afgeweer moet word dat ons samelewing bewaar moet word min of meer soos dit tans is, is dit normaal vir die meerderheid van die ander kerke in die land om te bid dat daar ’n radikale einde gemaak moet word aan wat hulle as ’n situasie van onderdrukking takseer.
Terwyl ons bid: Bewaar ons!, bid hulle: Bevry ons! Terwyl ons bid: Laat wet en orde onder ons gehandhaaf word! bid hulle: Verbreek die bande wat ons bind! Terwyl ons bid vir die beskerming van ons seuns op die grens, bid ouers aan die ander kant vir hulle seuns wat êrens opgelei word of miskien reeds aktief betrokke is in ’n gewelddadige aanslag op die bestaande bestel in ons land.
Dit is die realiteite. Geen kerk, geen Christen kan met ’n skouerophaal verbygaan aan hierdie pynlike saak dat Christene in dieselfde land lynreg teenoor mekaar staan in die gebed nie. Dat baie dit tog regkry, vloei daaruit voort dat hulle meen dat diegene wat anders as hulle bid, nie regtig Christene kan wees nie. Daar is baie Christene aan weerskante van die skeidslyn wat eenvoudig sê dat die ander nie Christene is nie, maar hulle godsdiens misbruik as ’n dekmantel om hulle politieke ideale aanvaarbaar te laat voorkom.
Maar durf Christene so ’n radikale oordeel oor mekaar uitspreek voordat hulle sake met ander deurgepraat het en werklik mekaar in die hart gekyk het?
Die kerke sal met mekaar moet praat oor hierdie dinge. As ons die gebed ernstig opneem, moet ons bereid wees om ook ons gebede te onderwerp aan die maatstaf van die Woord van God. As ons mekaar wil help om dit te doen, sal. ons baie indringender van mekaar se kyk op sake kennis moet neem. – WDJ