NIE GENOEG NIE (1)
Sien ook NIE GENOEG NIE (2), 26 Oktober 1985
Die Burger, 16 Mei 1981, bladsy 8
Godsdiens as sodanig is nie genoeg nie. Daar is baie mense wat godsdienstig is, selfs buitengewoon godsdienstig, wat tog nie werklik verlos en bevry is nie. Dit is selfs moontlik dat godsdiens ’n soort kamoeflering kan wees waaragter ’n mens in jou onverlostheid skuilgaan, sodat jou innerlike verkeerdheid nie ontdek moet word nie.
Nee, godsdiens as sodanig is nie genoeg nie.
Wat nodig is, is egte, ware godsdiens. En dit is per definisie godsdiens wat ’n mens innerlik verlos en bevry. As ’n mens se godsdiens jou nie verander nie, maar daartoe dien om jou onverloste self net in ’n veilige skans te ommuur, is dit valse godsdienstigheid. Egte godsdiens breek ’n mens oop, dit rig jou na buite, dit maak jou helder en toeganklik, omdat dit jou hart rig op God en jou naaste. Dit maak jou los van die las van jou skuld, en dit maak jou vry om ’n nuwe weg te bewandel.
Natuurlik, dit geld in beginsel. Ook by die mens wat die egte artikel besit, is dit in ons aardse bestaan dikwels grotendeels verborge. As ’n mens tot bekering kom, is dit wel ’n prinsipiële oorgang uit die dood na die lewe, vanuit die gebondenheid na die vryheid, vanuit die ingekeerdheid in homself na die openheid vir God en die naaste. Maar wat in beginsel waar is, word dikwels in die praktyk van ons lewe weerspreek deur wat ons nog is en wat ons nog doen.
’n Christen is nie iemand wat sommer kant en klaar is wat hy moet wees nie. Hy is nog op weg na wat hy in beginsel reeds is, maar wat eers eenmaal ten volle sigbaar sal wees. Daarom dra ons Christenskap ’n gemengde karakter. Ons is verlos, en tog in so baie opsigte ook weer nie heeltemal vry om te wees en te doen wat ons as Christene eintlik behoort te wees en te doen nie.
Dit alles is waar. En tog bly dit geld: as daar darem niks by ’n mens sigbaar word van sy oorgang uit die dood na die lewe nie, dan is dit ’n teken daarvan dat die oorgang nooit plaasgevind het nie. Hoe verborge ons Christenskap in hierdie lewe ook mag wees, heeltemal verborge kan dit nie wees nie. Iets van die innerlike bevryding van ’n mens moet tog sigbaar word as hy werklik die egte artikel het. Daarom is dit dat Jesus gesê het dat dit nie genoeg is om net “Here, Here” te sê nie, maar dat die wil van die Vader wat in die hemele is, gedoen moet word. Nie die intensiteit of die kwantiteit van ’n mens se godsdienstige pligpleginge nie, maar die kwaliteit van jou gehoorsaamheid aan God bewys of ’n mens se geloof eg is of nie.
Godsdienstige pligpleginge kan ’n mens doen sonder om werklik van hart verander te wees. Egte liefde kan egter nie nageboots word nie. Dit bloei net op uit ’n hart wat vernuwe is. Daarom is die liefde vir Jesus belangriker as al die baie dinge wat die Fariseërs onderhou het.
Die toets van die egtheid van ’n mens se geloof is dan ook nie of jy veel oor die godsdiens te sê het nie, maar of jy bevry is tot innerlike ontferming, vriendelikheid en goedheid. – WDJ