Praat met jouself

PRAAT MET JOUSELF
Die Burger, 23 Mei 1981, bladsy 10

In die Psalms lees ons dikwels dat die digter sy eie siel aanspreek. Dink maar aan Psalm 103: Loof die Here, o my siel! Of aan Psalm 42: Wat buig jy jou neer, o my siel, en wat is jy onrustig in my? Of aan Psalm 62: Wees maar net stil tot God, my siel, want van Hom is my verwagting!

Wanneer in hierdie gevalle van die siel gepraat word, word met die begrip eenvoudig die mens self bedoel. Wie met sy siel praat, praat met homself. Dit is een van die geheimenisse van die mens, dat hy tot homself in ’n verhouding staan en dus ook met homself kan praat. Daarin kom iets tot uitdrukking van die feit dat die mens die beeld is van die drie-enige God wat met Homself in ’n ewige verhouding van liefde en gemeenskap verkeer.

Die mens het die vermoë om hom van homself te onderskei, om teenoor homself te staan te kom, om oor homself te kan oordeel, om met homself oorhoop te lê of om met homself in vrede te verkeer. Dit is die gevoel daarvan dat die mens ’n selfbewussyn het en met homself kan omgaan asof daar in homself twee persone aanwesig is. Daarom kan ’n mens innerlik verskeurd wees of ’n innerlike harmonie ervaar. Daarom word die mens gekenmerk deur ’n verskynsel soos die gewete, wat niks anders is nie as die mens se innerlike selfbeoordeling in die lig van wat hy as die ideaal vir homself aanvaar het.

Juis daarin is dit ook nie vreemd as ’n mens met homself praat nie. As ’n mens te veel met homself praat, of so in homself ingekeer raak dat hy net met homself kan praat, is dit natuurlik abnormaal. Dit is egter nie abnormaal nie, maar vir ’n gesonde mens noodsaaklik om tyd daarvoor in te ruim om met sy eie siel te kan praat. Alleen so kan die verhouding van ’n mens tot homself gesond bly. ’n Mens behoort jou tye te ken waarin jy jouself van andere terugtrek en in die lig van die Bybel met jouself praat oor jouself, oor jou lewe, oor die gang van sake wat jy by jouself waarneem, oor die vraag of jou verhouding tot God en jou medemense nog reg is. Selfondersoek is vir ’n mens nodiger as brood of water.

Dit is moontlik om te sê dat ’n verkeerde verhouding van ’n mens tot jouself aan die basis lê van wat in jou lewe verkeerd is. ’n Mens se verhouding tot jouself is altyd die teenkant van jou verhouding tot God en tot jou naaste. As verlossing beteken dat die verhouding tot God en die naaste herstel word, dan beteken dit ook dat die verhouding tot onsself herstel word. As ’n mens God vind, vind jy ook jouself. As ’n mens met jouself oorhoop lê, is dit ’n teken daarvan dat daar ’n blokkasie in jou verhouding tot God is.

Dit is alleen as ons tyd neem om ’n keer rustig en indringend met onsself te praat, dat ons ruimte in ons lewe maak om reg te maak wat verkeerd is en om onsself op die regte wyse te vind. – WDJ