Steeds duideliker

STEEDS DUIDELIKER
Die Burger, 1 Augustus 1981, bladsy 8

Met die toename in ons jare word die ware karakter van ’n mens eers werklik sigbaar. ’n Matrone van ’n ouetehuis het eenmaal opgemerk dat ’n mens as jy oud word, presies is wat jy altyd was jy is, net erger.

As jy altyd ’n bemoeisieke mense is, is jy as oumens onuitstaanbaar bemoeisiek. As jy altyd liefdevol was, is jy as oumens waarskynlik beminliker as ooit. Die dinge waarin ’n mens jou lewe lank belang gestel het, word vir jou in jou ouderdom net nog belangriker. Die praterige praat al hoe meer, die swygsame swyg al hoe meer. Die hardkoppige word al hoe weerbarstiger. Die pruttelaar pruttel dan van vroeg tot laat, oor alles wat denkbaar en ondenkbaar is. En hopelik word die egte vrome dan ook nog net dieper bewus van sy totale afhanklikheid van God.

Die krake in die hout waaruit ons gesny is, word in die middagson al hoe duideliker. Toe ons jonger was, kon dit alles nog in ’n groot mate verborge gebly het agter die groot drukte van ons lewe. Die snelle wisseling van situasie, die verdeeldheid van ons lewe oor baie terreine, maak dit in ons jonger dae moontlik dat ons nie so naak ten toon gestel word voor die oë van almal nie. Maar as ons die hele dag lank op ’n stoel moet sit, as ons lewe teruggeloop het tot binne die vier mure van een kamer, dan word dit vir almal se oë sigbaar wie ons is.

Een van die redes daarvoor is dat ons dan dit waarskynlik ook nie meer so nodig vind om die beste voet voor te sit nie. Deur ’n bepaalde afstomping gebeur dit dat ons nie meer so gevoelig is vir die oordeel van andere oor ons nie. Ons kry ’n eienaardige gevoel van selfversekerdheid of van onbekommerdheid oor wat andere van ons dink. Miskien is dit ook doodgewone onmag om onsself nog langer te handhaaf in die beeld van onsself wat ons altyd met ons saamgedra het. In elk geval word die drempel van ons gereserveerdheid baie laer, en ons is dan maar net sommer wat ons is.

Onder die omstandighede is dit so belangrik wat ons werklik is. Dit is so bemoedigend om oumense teen te kom wat in hul gryse ouderdom nog getuies is van die mildheid, die vriendelikheid, die beskeidenheid en die tevredenheid wat ’n mens kenmerk wat altyd in die sonskyn van Gods genade gewandel het. Juis as die breekbaarheid van ons liggame sigbaar word en ons verstandelike en psigiese krag ons ontval, is dit ’n magtige getuienis wat uitgaan van die lewe van ’n mens wie se lewe tot in die kern daarvan aangeraak is deur die liefde van God.

In ’n sin voltrek die oordeel oor ons lewe homself reeds oor ons in wat sigbaar word aan die voldrae vrug van ons ouderdom. ’n Mens moet só lewe dat jy maar oud kan word. – WDJ