DIE DIEPER VLAK
Die Burger, 8 Augustus 1981, bladsy 10
Een van die faktore waaraan die skynbare onoplosbaarheid van baie van ons tussen-menslike probleme toegeskryf moet word, is die gebrek aan skuldbesef wat by die meeste mense bestaan. Hulle is nie daarvan bewus dat hulle iets doen of ’n houding aanneem wat vir andere krenkend kan wees nie. Hulle voel daarvan oortuig dat hulle gelyk het en onberispelik is en dat al die skuld vir alles wat verkeerd is, by ander aanwesig moet wees.
Klaarblyklik is ons slegs in baie beperkte mate in staat daartoe om onsself objektief te beoordeel. Dit hang saam met die vermoë wat ’n mens besit om uiters selektief te werk te gaan met die faktore wat jy in berekening bring in jou beoordeling van ’n situasie waarin jy self betrokke is – veral van die rol wat jy daarin speel. Terwyl ’n mens dus geneig is om uiters skerp te oordeel oor wat andere is en doen, openbaar jy dikwels ’n totale gebrek aan oordeelsvermoë wanneer dit om jouself gaan.
’n Mens besit die merkwaardige vermoë om net te sien wat hy wil sien en te weet wat hy wil weet. Die res van die feite en indrukke wat hulle aan hom opdring, skakel hy of heeltemal uit, of hy interpreteer hulle soos hy graag wil. Dit geld nie net vir indrukke en feite wat hulle van buite af aan ’n mens opdring nie. Dit geld óók vir die stand van sake in jou eie hart.
0ns is wonderbaarlik goed daartoe in staat om net kennis te neem van wat skynbaar goeie motiewe en dade by onsself is, terwyl ons baie maklik kan ignoreer wat in ’n ander rigting wys. Die gevolg is dat ons ’n uiters oppervlakkige kennis van onsself het, en met name van ons verkeerdheid van hart en die aandeel wat ons het aan die ongeluk en wrywing waardeur die samelewing van mense gekenmerk word.
Dit is daarom dat dit vir mense in die omgewing van Jesus so ontstellend moet gewees het dat Hy afgedaal het na die dieper vlak van ons lewe en aangetoon het dat ons verborge begeertes en motiewe ons reeds skuldig maak teenoor God en mekaar. Hy het mense se fariseïstiese selfversekerdheid deurbreek deur daarop te wys dat ’n mens dikwels die splinter in iemand anders se oog raaksien, maar die balk in jou eie oog nie opmerk nie. Hy het die verborge bron van al ons dink en doen, die hart, aangewys as die haard van besmetting wat alles in ons lewe vergiftig.
Ons wat so seker is dat ons gelyk het, wat altyd alle ander mense daarvan beskuldig dat dit hulle is wat alles omkrap, ons moet ’n slag afdaal na die dieper vlak van ons eie begeertes en motiewe. Dáár sit dikwels die haat en die selfsug, die hebsug en die onreinheid wat ons lewe beheers, maar waarvan ons oppervlakkig volkome onbewus skyn te wees. – WDJ