Die een ding wat tel

DIE EEN DING WAT TEL
Die Burger, 22 Augustus 1981, bladsy 8

Nie alles in ons lewe is altyd ewe belangrik nie. Daar is meestal één bepaalde ding wat in ’n gegewe situasie die ding is wat tel en waarop alles min of meer aankom. Die sukses of mislukking van ons lewe hang af daarvan of ons bereid is om die één ding te doen wat op ’n bepaalde moment van ons gevra word.

God het op ’n bepaalde dag van Abraham verwag om sy seun Isak te gaan offer op die berg Moria. Dit was ’n ongehoorde opdrag wat tot Abraham gekom het. Hy kon miskien geredeneer het dat daar tog so baie ander dinge is wat God van hom kan vra en wat hy graag sou wou doen. Hy was ’n man van veel gebed, ’n man van gasvryheid, van opregtheid, van gehoorsaamheid. Hy het met God gewandel. Was dit alles nie genoeg nie? En as God nog meer van die soort dinge van hom sou vra, sou hy bereid wees om dit te doen.

Maar God vra op daardie moment nie al die ander dinge nie. Hy weet dat Abraham al die ander dinge gedoen het en nog meer sal wil doen. Maar Hy weet óók dat Hy Abraham se geloof alleen dan werklik kan toets as Hy van hom die een ding vra wat Abraham menslik gesproke nie kan doen nie. Hy vra van Abraham gehoorsaamheid op die een punt waarvan Abraham weet dat gehoorsaamheid alleen moontlik is as ’n mens jouself volkome prysgee en in die hande van God val wat beter weet as ons.

Dit is die een ding wat nodig is. Jesus het eenmaal aan Martha gesê dat sy oor baie dinge besorg is, maar dat daar maar een ding is wat nodig is. Dit is opmerklik dat daar nie in die Evangelie staan wat die een ding is wat nodig is nie. Dit is goed so, want dit kan vir ons ’n aanduiding daarvan wees dat die een ding wat op ’n bepaalde moment tel, nie altyd dieselfde is nie. God vra nie van alle mense dieselfde nie. Ons is in ’n ander posisie as Abraham en God vra van ons waarskynlik gehoorsaamheid op ’n ander manier as van Abraham. Maar dat Hy elke dag van ons die een ding vra wat vir daardie dag werklik nodig is, staan soos ’n paal bo water. Hy vra nie vandag wat Hy gister gevra het nie, en Hy sal môre nie weer vra wat Hy vandag gevra het nie. Maar die een ding wat tel, is wat God vandag van my vra.

Soos God met ons op weg is, lei die Gees ons tot insigte in nuwe dinge wat van ons gevra word, maar wat almal daarop gemik is om te toets hoe diep ons liefde en geloof lê en of ons God werklik vertrou. Jesus het van die man met die verdorde handjie net een ding gevra, en dit was om die onmoontlike ding te doen: om sy verdorde hand uit te steek. Nie die gesonde hand nie. Maar die verdorde een.

Wat sou God tog vandag van u vra? Wat is die een ding waarop dit vandag in u lewe aankom? – WDJ