MIKRO EN MAKRO
Die Burger, 5 September 1981, bladsy 10
Baie van ons mense het ’n skerp oog vir misstande op die terrein van die mikro-moraal, terwyl hulle blind skyn te wees vir misstande op die terrein van die makro-moraal. Onder mikro-moraal verstaan ons die sedelike lewe van die mens op die persoonlike vlak en in die kleiner kring. By makro-moraal dink ons aan die sedelike verantwoordelikheid van die gemeenskap of selfs die mensheid as geheel vir vraagstukke wat die lewe van die mense in groter verbande raak.
Die mikro-moraal het dus betrekking op die mens se persoonlike eerlikheid, ordentlikheid, kuisheid en gesindheid. Hierdie dinge is van die grootste gewig vir die mens persoonlik en ook vir die kleiner kring van die gemeenskap rondom hom. Tog kan ’n mens nie sê dat oortreding van die sedelike norme op hierdie terrein noodwendig die hele land of die hele wêreld raak nie. Die bestryding van misstande op hierdie vlak kan dan ook doeltreffend geskied deur persoonlike beïnvloeding van die betrokkenes. ’n Verandering van gesindheid en liefs ’n persoonlike bekering is die antwoord op hierdie probleem.
By die makro-moraal is dit egter moeiliker. Hier gaan dit om dinge wat die gesamentlike verantwoordelikheid van die gemeenskap raak. Dit is veral die politieke, maatskaplike en ekonomiese kwessies. In wêreldwye verband raak dit dinge soos die bedreiging van die wêreldvrede, die oorbevolking, die uitputting van basiese grondstowwe en die probleem van die verhouding tussen arm en ryk lande. ln ’n bepaalde land gaan dit om die reëling van politieke, maatskaplike en ekonomiese strukture wat die lewe van die landsburgers raak en ten diepste beïnvloed. In ons land spesifiek gaan dit om die verhouding tussen die rassegroepe, politieke regte, maatskaplike en ekonomiese bevoorregting en dergelike meer.
Misstande wat op hierdie terreine voorkom, gaan ver bokant die verantwoordelikheid van die individu uit. Dit hang immers saam met die wyse waarop die samelewing as sodanig ingerig is. Wanneer daar in die inrigting van die samelewing dinge ingebak sit wat misstande skep of laat voortduur, kan sulke misstande ook nie verwyder word deur die verandering van gesindheid van die individu nie, hoe noodsaaklik dit op sigself ook is. Wat nodig is, is kollektiewe besluitneming en optrede deur die gemeenskap as geheel om dinge só te reël, dat die faktore wat die kwaad veroorsaak, uitgeskakel kan word.
Daarvoor is egter nodig dat daar genoeg mense moet wees wie se oë daarvoor geopen is om die kwaad te sien en wie se harte daartoe beweeg is om ’n einde daaraan te maak. Daarsonder kan kwaad op die terrein van die makro-moraal nie beveg word nie. In hierdie opsig kan veral die kerke ’n groot rol speel as hulle besef dat Gods Woord nie net sonde op die gebied van die mikro-moraal nie, maar ook op dié van die makro-moraal veroordeel. – WDJ