ONS MOET DIT LEER
Die Burger, 26 September 1981, bladsy 12
Daar is ’n groot deel van ons bevolking wat weer sal moet leer om soberder te lewe. Ons het so gewoond geraak aan weelde en oorvloed, dat sommige van ons onder die wanindruk verkeer dat hulle nie meer kan klaarkom sonder al die baie luukses wat hulle hulleself veroorloof nie. Die lokkende advertensies met hul suggestiewe taal en beloftes van lewe en geluk as mense maar net nog hierdie of daardie artikel kan koop, hou baie van ons in die ban van ’n inflasionistiese lewenstyl waaruit hulle hulleself moeilik kan ontworstel. Almal van ons sal dit egter moet doen as ons nie geestelik verstik wil word in materialisme en oppervlakkigheid nie.
Daar is verskillende redes waarom spesifiek ons in Suid-Afrika ons lewenspeil in oënskou moet neem. Die voortdurende opskuiwing van die lewenstandaard van ’n klein deel van die bevolking ten aanskoue van ’n agterblywende en minderbevoorregte oorgrote deel van die bevolking, is letterlik lewensgevaarlik. Dit kan op die lang duur nie anders as om in ’n revolusionêre opstand te eindig nie.
Nader aan huis is dit ook waar dat mense wat die tipe lewe lei wat pas by ’n oorvloeds-maatskappy ’n duur prys daarvoor moet betaal in die vorm van die ontwrigting wat weelde altyd in die menslike lewe aanrig, hetsy op die vlak van die persoonlike, die gesins- of die gemeenskapslewe. Die Bybel sê nie verniet dat geldgierigheid ’n wortel van alle euwels is nie. Die hoë egskeidingsyfer moet tog vir ons ’n aanduiding daarvan wees dat die koors in ons blanke volksliggaam hopeloos te hoog is. En dit is maar een indikasie.
Vir ’n Christen is die diepste rede waarom hy sober moet lewe egter nie daarin geleë dat dit vir homself en vir ander nuttig kan wees as hy ’n laer lewenspeil handhaaf nie, hoe belangrik dit op sigself ook is. Vir hom moet dit duidelik wees dat om sober te lewe iets te make het met sy verhouding tot God.
’n Christen moet leer verstaan dat die aardse dinge nie eintlik sy eie is nie. Hy kan nie daarmee maak wat hy wil nie, laat staan nog dat hy daarin mag swelg terwyl ander gebrek ly, of andere se nood mag uitbuit om homself te verryk. Die aardse dinge behoort aan God. Ons is maar net rentmeesters daarvan. Daarom mag ons met vreugde daarvan gebruik soveel as ons werklik nodig het, maar om meer as dit te versamel of onnodig te verbruik, is eenvoudig sonde.
Bowendien moet ’n Christen staan in die vryheid waarmee Christus hom vrygemaak het en hom nie onder die juk van verslawing aan aardse besittings en weelde laat bring nie. Hy moet wat hy hier besit, besit asof by dit nie besit nie. Hy moet innerlik vry wees teenoor aardse skatte en voorregte, en dus in staat wees om homself met die minimum tevrede te stel, as hy daardeur Gods saak kan dien en die naaste kan help. – WDJ