Vrywillige armoede

VRYWILLIGE ARMOEDE
Die Burger, 3 Oktober 1981, bladsy 10

Vir ons gevoel was dit ’n sieklike verskynsel dat daar in die loop van die geskiedenis mense was soos bedelmonnike wat hulself aan die wêreld onttrek het en die ideaal van vrywillige armoede probeer uitleef het. Daarmee het hulle wel probeer om Christus letterlik na te volg en hulself te vrywaar teen die gevare van hebsug en die verslawing aan aardse besittings, maar hulle het in ’n ander rigting gedwaal. Hulle het nie hul eie verantwoordelikheid vir hul liggaamlike voeding nagekom nie, van hulself ’n las vir die samelewing gemaak, en dit alles nog as verdienstelik beskou met die oog op die ewige lewe.

Dit is korrek om dit af te wys.

Maar daarmee is ’n mens tog nie klaar met die sáák wat hulle op so ’n verkeerde manier aan die orde gestel het nie, en dit is dat die navolging van Christus onder meer tog beteken dat ’n mens innerlik ’n bepaalde afstand tot aardse besit moet hê. Seker, ’n mens hoef jou nie in ’n klooster terug te trek nie. Jy mag nie jou verantwoordelikheid om te werk laat vaar en vir jou lewensonderhoud in die oë van andere kyk nie. Jy moet verstaan dat ook die manier waarop ons werk en met die aardse besittings omgaan, ’n getuienis kan wees van hoe God wil hê dat ons in die wêreld moet lewe. Maar die afwysing van die metode van die bedelmonnike beteken nie dat ons dus maar ons hebsug en grypsug kan botvier nie.

Die navolging van Christus vra van ons ook ’n vrywillige soberheid in ons omgang met aardse besittings. Die Bybel is nie verniet vol van waarskuwings teen die gevare van die rykdom en die begeerte daarna nie. Christus beklemtoon selfs dat ’n ryk man beswaarlik in die koninkryk van God sal kan ingaan.

Ons moet sulke uitsprake van die Bybel nie te gou ontkragtig met allerlei redenasies of vergeestelikings nie. Dit is eenvoudig moeiliker vir ’n mens wat baie besit om hom van sy besittings innerlik (en as dit nodig is, ook uiterlik) los te maak om Christus as wins te verkry. ’n Mens moet jou bekeer van jou sug na rykdom, anders word dit ’n steen om jou nek wat jou letterlik in die dieptes van verlorenheid laat sink.

Wanneer sal ons dan tog leer dat ons hard kan werk, doeltreffend kan werk, ’n goeie inkomste kan hê, en tog vrywilliglik eenvoudig kan lewe, ter wille daarvan om genoeg middele te hê om daarmee in die wêreld goed te kan doen? Wanneer sal ons besef dat die groot huise wat ons bewoon, die weelde wat ons omring, die baie motors wat ons besit, die duur reise wat ons onsself veroorloof, miskien nie werklik nodig is nie, en dat die geld wat dit alles kos, dalk nuttiger bestee kon gewees hel in diens van die koninkryk van God of die verligting van die nood van die naaste? Wil God nie dalk hê dat ons die vraag ’n keer ernstig aan onsself moet stel nie? – WDJ