WAT TANS NODIG IS
Die Burger, 10 Oktober 1981, bladsy 10
Wanneer ons vandag op 10 Oktober dankbaar terugdink aan die bydrae en betekenis van groot figure uit die verlede tot die opbou en voortbestaan van ons volk, vergelyk ons onwillekeurig die situasie waarin hulle opgetree het met dié waarin ons vandag verkeer.
Paul Kruger het opgetree in ’n tyd toe ons volksbestaan, veral in die noordelike provinsies, ernstig bedreig is. Hy het vir ons deur sy optrede in ’n tyd van krisis ’n simbool geword van standvastigheid, bonkige onversetlikheid en onverskrokke mannemoed. Dit is deugde wat ’n diepe indruk op ons volkskarakter gemaak het en daar is waarskynlik nog derduisende Afrikaners vir wie dit die ideaal-beeld van die Afrikaner tipeer.
Vir die krisistyd waarin Paul Kruger geleef en sy rol gespeel het, was dit die regte deugde. Daar is ook ’n sin waarin dit bo-tydelike deugde is wat altyd hul geldigheid behou. Maar dit is natuurlik nie die enigste deugde wat bestaan nie. In krisistye van ’n ander aard kan ander deugde vereis word, of ander gestaltes van dieselfde deugde as wat die geval in die tyd van Paul Kruger was.
Ons leef vandag weer in ’n krisis. Dit gaan egter om ’n krisis wat nie alleen ’n baie meer totale karakter dra as dié rondom die eeuwending nie, maar ook grotendeels ’n ander aard het. Die krisis waarin ons verkeer, kan wel in bepaalde opsigte vergelyk word met dié in die tyd van Kruger, maar daar is tog ook kenmerkende verskille. Een daarvan is dat Kruger destyds in die oë van ’n groot deel van die wêreld die leier was van ’n volk wat veronreg is en dus die morele reg aan hul kant gehad het, maar dat feitlik niemand in die wêreld ons vandag meer in die posisie sien nie. Inteendeel: ons krisis hang juis vandag daarmee saam dat ons in die wêreld gebrandmerk staan as diegene wat onreg doen. Ons krisis het daardeur ’n morele kant gekry wat dieper insny as in die tyd van Kruger.
As ons maar kon glo dat ons alleen gelyk het en die hele wêreld ongelyk, sou dit soveel makliker wees. So eenvoudig is dit egter nie. Ook al is dit waar dat ons veronreg word deurdat mense nie die ingewikkeldheid van ons situasie en die problematiese van bepaalde soorte oplossings daarvan begryp nie, weet ons tog self ook dat ons moreel nie so sterk staan as wat ons altyd sou wil voorgee nie. Waarom sou die oorgrote meerderheid van kiesers anders aan die Regering ’n mandaat gegee het tot selfs drastiese veranderinge in ons samelewingsbestel?
Blote onversetlikheid en mannemoed is dus in hierdie uur nie genoeg nie. Ons het tans die moed nodig om reg te maak wat verkeerd is, selfs al kos dit ons veel. As ons nie die wêreld, ons mede-landgenote en onsself daarvan kan oortuig dat ons moreel suiwer staan nie, help heldemoed en stoerheid niks. Ons sal staan of val by ons morele integriteit. – WDJ