Verburgerliking

VERBURGERLIKING
Die Burger, 17 Oktober 1981, bladsy 10

Een van die grootste gevare waaraan die Christendom sedert die tyd van Konstantyn die Grote blootgestel is, is die gevaar van verburgerliking. Daarmee bedoel ons dat die Christendom op ’n bepaalde wyse “mak” gemaak word, dat dit van sy skerp kante beroof word en aangepas word by die deurslag-moraliteit van die ordentlike staatsburger. Dan word dit maklik om met die Christendom saam te leef. Dit is dan immers niks meer nie as die religieuse kant van die samelewing, en in dié opsig nie meer veel verskillend van alle heidense gods­dienste wat by samelewings aangepas is nie.

Voor die tyd van Konstantyn is die Christene vervolg. Dit was ’n uitdaging om ’n Christen te wees. Niemand het dit geword as dit nie ’n saak van diepe innerlike oortuiging was nie. Wie ’n Christen geword het, het daarmee verklaar dat hy bereid was om vir sy geloof te sterf as dit nodig sou wees.
In dié tyd het die kerk nog iets verstaan van die radikale eis van die evangelie soos dit deur Christus en die apostels verkondig is. Die evangelie, sê Paulus êrens, is nie na die mens nie. Dit is nie in ooreenstemming met ons natuurlike wense en begeertes nie, selfs nie eens met ons natuurlike moraliteit nie. Dit staan haaks op ons werklikheid en roep ons op tot ’n totaal ander lojaliteit en lewenstyl as wat vir die burgerlike middestands-mens aanvaarbaar is.

Toe die kerk egter staatskerk geword het en dit algemeen aanvaar is dat ’n mens ’n Christen behoort te wees, het dit moontlik geword om Christenskap en algemene ordentlikheid met mekaar te verwar en om kompromieë te maak wat die Christelike geloof van sy dinamiek en innerlike krag beroof. Vir die burgerlike mens staan dit by voorbaat vas dat ’n mens die evangelie nie te letterlik of te ernstig hoef op te neem nie. Hy begryp nòg die Bybelse taal oor die diepte van ons verlorenheid, nòg die eintlike bedoeling van die boodskap van bevryding. Omdat hy Christenskap en ordentlikheid met mekaar verwar, mis hy die orgaan om ook maar in die minste te begryp waaroor dit in die begrip verlossing gaan.

Wat kan hy immers maak met die radikaliteit van die Bybelse boodskap oor bekering, selfverloëning en die afsterwe van die ou mens? Wat sê die eis van die Bergrede oor die radikale karakter van die liefde vir hom? Kan hy hom voorstel wat dit beteken as daar in die Bybel ’n onvoorwaardelike eis staan om Christus na te volg?

Die burgerlike mens beskou die Bybel as ’n eerbiedwaardige boek met mooi gedagtes en mooi waarhede, maar tog ’n boek waarvan jy moet onthou dat dit nie prakties ernstig opgeneem kan word nie. Daar is immers ander realiteite waarmee ’n mens rekening moet hou. Gevolglik stel hy die visier maar laer en besluit om homself as ’n Christen te beskou as hy maar net algemeen ordentlik lewe. – WDJ