Oproep tot verootmoediging

OPROEP TOT VEROOTMOEDIGING
Die Burger, 24 Oktober 1981, bladsy 10

Dit is betekenisvol dat die kerke van die Nederduits Gereformeerde familie besluit het om vanjaar Hervormingsondag (môre) af te sonder as ’n dag van verootmoediging. Daaruit blyk die besef dat dit onvanpas sou wees om die Hervormingsfees in ’n gees van triomf te vier, asof Hervorming iets is wat ons agter die rug het. Inteendeel, daarmee word onderstreep dat die Hervormingsfees ons roep tot selfondersoek, berou oor wat verkeerd is, skuldbelydenis en verootmoediging.

Dit word ook duidelik uitgespel in die verklaring wat die oproep vergesel. Daarin word gewag gemaak van die noodsaak van ’n terugkeer tot God “met berou en belydenis van skuld oor die geestelike en sedelike verval in ons gemeenskappe, die skreiende miskenning van God en sy gebooie in ons doen en late, die noodlottige ignorering van Hom in ons besluite en die tragiese wyse waarop ons Hom versoek deur ons moedswillige ongehoorsaamheid”.

Dit is besonder sterk en kras taal.

Daaruit is dit duidelik dat die kerke nou blykbaar eens en vir altyd ’n einde wil maak aan versekeringe dat ons niks het om oor skuldig te voel nie, dat ons ons veral geen “valse skuldgevoelens” moet laat aanpraat nie, dat kritiek teen onsself (selfs al kom dit voort uit die diepste solidariteit) net in die hande speel van “ons vyande” en die totale aanslag teen ons sal dien, ens. Daar moet by die kerke bepaald ’n groot ongeduld gegroei het teen dié soort gepraat, want dit kan nie anders gesien word nie as dat die soort afweerbeweging teen selfkritiek en skuldbesef, lynreg in stryd is met die boodskap van bekering wat die kerk probeer bring en in diens staan van die “noodlottige” ignorering van die Woord van God en die “moedswillige ongehoorsaamheid” waarvan die kerke praat.

Daarteenoor wil die kerke juis aan ons sê dat ons onsself moet bekeer. Dit is die dringende boodskap wat ons moet hoor. Hoe kan ons “vrede, vrede” roep, terwyl daar geen vrede is nie (Esegiël 13)? Dink maar aan hoe ons meeding in die wêreld om die voorste plekke op die gebied van egskeiding, ontwrigting van die huwelik, alkoholisme, misdadigheid, selfmoord, openlike en verborge haat wat lê en smeul en dergelike dinge meer. Hierdie dinge is simptome van iets wat innerlik met ons nie reg is nie.

Dit het werklik tyd geword vir ’n diepgaande selfondersoek.

Natuurlik: as die kerke sulke dinge aan ons sê, kan met reg van die kerke verwag word om ons op die weg van verootmoediging en hartgrondige bekering voor te gaan. Die oproep tot verootmoediging moet juis vir die kerke nie by woorde bly nie, maar tot ’n daad van bekering word. As al die vreeslike dinge waarvan die kerke praat, waar is, is dit dringend noodsaaklik vir die kerke om hulself af te vra in watter mate hulle self skuld daaraan het dat ons land is soos hy is. – WDJ