Dit sny na twee kante

DIT SNY NA TWEE KANTE
Die Burger, 31 Oktober 1981, bladsy 10

Elke vorm van onreg wat ’n mens teenoor andere pleeg, het ’n skadelike uitwerking op jouself en bring in jouself minstens net so ’n diep verwonding aan as in die persoon teenoor wie jy onreg pleeg. Die kwaad sny altyd na twee kante toe. Dit kos altyd ’n duur prys. Ook die omgekeerde is waar: wie die naaste dien en die goeie aan hom doen, ontvang in sy eie lewe ’n ryke vergoeding daarvoor.

Die rede hiervoor is eenvoudig dat God die mense aan mekaar verbind het en op mekaar afgestem het. Ons kan nie sonder mekaar lewe nie en ons kan ook nie werklik afgesonderd van mekaar lewe nie. Ons is van mekaar afhanklik, nie net vir voedsel en kleding en die elementêre dinge van ons liggaamlike lewe nie, maar ook moreel en geestelik. Ons is in die mees omvattende sin van die woord op mekaar aangewese, sodat ons omgang met mekaar nooit dieselfde karakter kan dra as ons omgaan met die materiële dinge nie. Ons is in groot mate wat ander mense van ons maak, en hulle is wat ons van hulle maak. Maar daarom is dit in sekere sin ook waar dat ons is wat ons van hulle maak, en dat hulle is wat hulle van ons maak.

Dit kan so maklik geïllustreer word aan die betekenis van die liefde. As ons liefdeloos teenoor ander mense is, weerhou ons nie net van hulle wat God ons gebied het om aan hulle te gee nie, maar ons onthou aan onsself die vreugde wat daarin geleë is om lief te hê, om onsself te gee, om bevry te word van die innerlike kramp van die self-gerigtheid.

Net so is haat nie iets wat ek maar net vir ander mense kan hê, sonder dat dit myself ook vernietig nie. Haat is ’n vuur wat na twee kante toe verteer, nie net die een wat gehaat word nie, maar ook die een wat haat.

Daarom is dit ook waar dat my menswaardigheid afhang van my erkenning van die menswaardigheid van my medemense. Dit is ’n illusie om te dink dat ek werklik ’n mens kan wees as ek ander mense hul volle mens-wees ontsê. Wie meen dat hy op ander mense kan neersien en hulle verag, moet nie dink dat hy self skotvry daarmee kan wegkom nie. As ek ander mense in hul mens-wees aantas, rand ek my eie mens-wees aan. Hoe ek ook al oor myself oordeel, in werklikheid is ek besig om my eie menswaardigheid te ondermyn in die miskenning van die van andere. Dit moet en sal homself aan my wreek. Daarvoor is die hele Bybel ’n getuie. Vir ’n mens se eie ontwikkeling tot egte mens­wees is dit daarom van die grootste belang om te leer om andere raak te sien, hulle lief te hê, in hulle belang te stel, hulle hoog te ag, hulle as mense van God te leer waardeer, om openheid vir hulle te ontwikkel en om aan hulle die geleentheid te bied om dieselfde met my te doen. En dit geld vir alle mense. Hoe arm is ons tog as ons dit afwys. Ons sny daarmee in eie vlees. – WDJ