Dit is ’n saak van erns

DIT IS ’n SAAK VAN ERNS
Die Burger, 7 November 1981, bladsy 10

Op een of ander manier kan dit gebeur dat ’n mens nie die erns van jou lewenskeuses besef nie. Ongetwyfeld is dit ’n aspek van ons verlorenheid as sondaars dat ons te bedwelmd is om werklik te besef waarom dit in ons lewe gaan. Daarom is ons geneig om te kies vir wat opvallend en op korttermyn aan ons die meeste genot, voordeel of sukses sal besorg, sonder om ons keuses in erns af te meet op die skaal van die lewenswaardes wat werklik blywend saak maak.

Dit kan ook wees dat die prediking van die kerk hieraan ’n sekere mate van skuld het. Ons preek so maklik net die genade en die liefde van God. Ons hou die vergiffenis van God voor asof dit sonder meer geld vir almal en vir alles. Ons troos mense te maklik met die heilsbeloftes van God, sonder dat ons altyd aan hulle voorhou dat daardie heilsbeloftes alleen bedoel is vir diegene wat hulle bekeer.

God se genade is geen goedkoop genade nie. Dit is ’n heilige genade. Gods genade is nooit in stryd met sy geregtigheid nie. Sy vergiffenis beteken nie dat ’n mens maar kan lewe soos hy wil en kan doen wat hy wil, en hom dan op Gods vergiffenis kan beroep, sonder dat hy terselfdertyd radikaal omdraai van sy verkeerde weg en op ’n nuwe weg begin wandel nie.

’n Goedkoop prediking van die genade loop altyd uit op ’n veragting van die genade. Wie genade verkondig aan mense wat nie weet dat hulle die genade nodig het nie, verveel en mislei hulle net. Hy werk ook daaraan mee dat sulke mense nie die erns van hul lewenskeuses besef nie, omdat hulle meen dat hulle vir die kwaad kan kies, sonder dat dit beteken dat hulle daarmee ook vir die oordeel van God kies. Dit kan ook meewerk aan die verharding van mense. As ons mense bly verseker van die genade van God ondanks die feit dat hulle oproepe tot omkeer doelbewus veronagsaam, maak ons dit vir hulle al hoe moeiliker om verdere oproepe tot bekering te hoor en op te volg.

Daar rus ’n groot verantwoordelikheid op die verkondigers van die evangelie om alle mense te laat verstaan dat dit in die keuse vir of teen God gaan om keuses van ’n dodelike erns. Dit is nie verniet dat die kerke van die Hervorming altyd gesê het dat die prediking van die wet en die evangelie saamhoort nie.

Die profete van die Ou Testament het ook nie moeg geword daarvan om aan die volk te verkondig dat daar geen vergewing sonder bekering moontlik is nie. En Jesus het nie beloftes van genade aan die Fariseërs gedoen nie, maar hulIe in die sterkste moontlike taal daartoe opgeroep om hulself te bekeer.

Miskien is daar al baie mense wat dink dat dit ’n verouderde idee is dat daar so iets as ’n ewige oordeel en ’n ewige verlorenheid kan wees. Wat ’n ontnugtering wag vir hulle! – WDJ