DIT MOET BEWUS GESKIED
Die Burger, 14 November 1981, bladsy 10
Dit is nie maklik om die denke en instelling van ’n hele gemeenskap te beïnvloed en te verander nie. Dit kan soms ’n lang tyd duur voordat bepaalde veranderinge sigbaar word. Geen gemeenskap is heeltemal staties nie. Dit ondergaan voortdurend ontwikkelinge in opvattinge en houdings. Die veranderinge is in normale omstandighede egter opgeneem in ’n langsame proses.
In dié opsig is ’n gemeenskap vergelykbaar met ’n groot boot op die oop see. Dit kan wel van rigting verander en sal ook voortdurend bygestuur moet word, maar dit geskied met verdrag. Geen groot boot kan in sy vier spore omdraai of dadelik tot stilstand gebring word nie. Die momentum van die vaart is te groot en die liggaam van die boot is te log om vinnige koersveranderinge moontlik te maak.
lets daarvan is ook waar van ’n gemeenskap. Waar ’n individu op ’n bepaalde moment tot ’n radikale verandering van insig kan kom en die koers van sy lewe dadelik totaal kan verander, neem enige ingrypende verandering in ’n gemeenskap altyd ’n lang tyd in beslag. Die liggaam van ’n gemeenskap is ook te log om snel te kan beweeg. Daar is te veel individue wat agterbly, wat skeef en dwars trek in die oortuiging dat hulle geroepe is om noodsaaklike koersveranderinge te verhinder. Hoe minder begrip hulle van die situasie het wat die veranderinge dringend maak, hoe halsstarriger kan hulle daarteen skop.
Ander is net eenvoudig ongeïnteresseerd: wat hulle betref, moet die dinge maar loop soos dit loop, solank hulle net niks daaraan hoef te doen nie. En nog weer ander is ’n beliggaming van die traagheid en luiheid om te verander wat as deel van die sonde in ons almal woon.
Tog kan daar tye kom waarin dit gebiedend noodsaaklik is vir ’n gemeenskap om vinnig van denke en instelling te verander. Dit kan selfs wees dat die voortbestaan van ’n gemeenskap daarvan afhanklik kan wees of hy in staat is om die traagheid wat hom aankleef, af te skud en ’n nuwe weg in te slaan. Dan is ’n verandering nie maar ’n luukse wat opsioneel is nie, maar ’n eis met die oog daarop om te kan bly lewe.
In sulke omstandighede kan ’n gemeenskap nie maar net langsaam voortdryf en geleidelik bygestuur word nie. Daar moet dan doelbewus daaraan gewerk word om so spoedig as wat moontlik is, die gemeenskap as geheel daarvan te oortuig dat in ’n nuwe rigting gevaar moet word.
Veral as ons weet dat daar in die soort lewenspatroon en in die lewensinstelling waaraan ons gewoond is, nie net gevaar steek nie, maar dat dit in meer as een opsig moreel ook verkeerd is, is daar geen tyd om te verspeel nie. As nie net ons aardse beswil nie, maar God se Woord van ons vra om te verander, mag ons nie toegee aan die traagheid nie. Dan is dit die plig van elkeen wat dit verstaan om bewus mee te help om die gemeenskap as geheel tot ’n nuwe instelling te help beïnvloed. – WDJ