’n WAG VOOR MY MOND
Die Burger, 21 November 1981, bladsy 12
Die Bybel praat op baie plekke oor die noodsaaklikheid daarvan dat ’n mens jou mond in toom moet hou. Veral in die Psalms hoor ons meer as een keer die bede dat God die bidder tog moet help om sy tong in bedwang te hou. Die mees bekende voorbeeld hiervan is waarskynlik Psalm 141:3, wat lui: “Here, stel ’n wag voor my mond, bewaar die deur van my lippe”.
Woorde kan so gevaarlik wees, soveel kwaad aanrig. Dit kan in ’n oomblik iets vernietig wat nooit herstel kan word nie. Die apostel Jakobus skryf dat die tong soos ’n klein vuurtjie is wat die wêreld aan die brand kan steek. Duisende male het ons waarskynlik al gewens dat ons ’n bepaalde woord maar liewer nie uitgespreek het nie, of dat ons iets ongedaan kon maak wat tot stand gekom het deur ’n onbesonne en onbewaakte woord. Die moeilikheid is egter dat daar iets onherroepliks lê in ons woorde. Wat gesê is, is gesê. Dit kan wel nog vergewe word, maar dit kan nooit weer ongesê word nie.
’n Mens kan jou afvra waarom woorde so gevaarlik is. Woorde gee tog maar uitdrukking aan wat ons dink en voel. Al sou ons nooit iets verkeerds sê nie, sou ons tog nog altyd verkeerde dinge van mekaar dink en haatlike gevoelens teenoor mekaar koester. Waarom word ons minagting van mekaar, ons bespotting van mekaar, ons innerlike wrewel teenoor mekaar soveel erger as dit uitgespreek word in plaas van om slegs in ons harte aanwesig te wees? Waarom sou dit gevaarliker wees om iets te sê as om dit te dink?
Die antwoord sal wel iets te make hê met die onherroeplike karakter van die woord. Wanneer iets in die hart lê, is dit ook wel sonde. Minagting van die naaste of haat teen die naaste is inderdaad nie minder sondig as dit in my hart lê, as wat dit sou wees wanneer ek dit in my woorde tot uitdrukking bring nie. Jesus het ons immers geleer dat verborge haat nie minder skuldig is as die daad van doodslag nie, net soos verborge begeerte nie minder skuldig is as die daad van egbreuk nie. En tog is dit waar dat die woord wat uitgespreek word of die daad wat verrig word, gevaarliker is as die verborge haat of begeerte, omdat dit in die konkrete lewe iets tot stand bring wat nie weer ongedaan gemaak kan word nie.
Dit ontketen die haat en die minagting, dit skep ruimte daarvoor om na buite uit te tree en verwoesting aan te rig. Dit is die voldrae vrug van die kwaad wat in die verhouding tussen mense losgelaat word en só ’n beweegruimte kry wat dit in staat stel om sy werkingskrag duisendvoudig te vergroot. Haat en begeerte, minagting en innerlike wrewel is ’n groot kwaad, want dit is soos dinamiet wat in die hart is. Maar woorde en dade is die aansteek en ontploffing van die dinamiet wat alles uit hul voeë kan ruk.
Daarom is dit nie so dwaas om te bid dat God ’n wag voor ons mond moet sit nie, selfs al weet ons dat ons ook elke dag moet bid om ’n rein hart. – WDJ