Gevoelig vir andere

GEVOELIG VIR ANDERE
Die Burger, 28 November 1981, bladsy 14

Daar is min mense wat nie gevoelig is vir wat andere van hulle dink en sê nie. As ’n mens jouself enigsins goed ken, is jy daarvan bewus hoe dikwels jy in jou woorde en optrede rekening hou met die opinies van andere en hoe dit baiemaal beteken dat jy ’n saak net effens anders voorstel as wat dit is of jouself net effens anders voordoen as wat jy werklik is, omdat jy meen dat jy daardeur op ander ’n beter indruk kan maak.

Op sigself is daar natuurlik ’n positiewe kant aan hierdie gevoeligheid vir die goed- of afkeuring van andere. Dit toon ten minste dat ons mense is vir wie dit saak maak dat ons gemeenskapswesens is. Ons is as mense op mekaar afgestem en ons moet met mekaar in harmonie probeer saamlewe. Daarom moet ons ook met mekaar rekening hou en mekaar se gevoelens en opvattings respekteer.

Gelukkig is dit nie regtig waar wat Hobbes gesê het, dat die mens ’n wolf is vir ander mense en dat ons eintlik maar net daarop uit is om mekaar leed aan te doen nie. Na die mate waarin daar deur Gods algemene genade nog in ons ’n natuurlike liefde vir ons medemense aangebly het, en veral natuurlik namate daar deur die verlossing in ons ’n egte Christelike liefde vir andere ontstaan, is ons gevoelig vir mekaar se wense.

As dit anders was, sou daar in die wêreld nog veel meer ellende, misdade, veronregting en vyandskap gewees het. Dit is iets goeds in die wêreld, dat ons in baie opsigte teruggehou word van wat ons miskien begeer om te doen, net omdat ons gevoelig is vir die openbare afkeer van ons dade of selfs vir die gekrenktheid van een of meer persone.

Tog kan hierdie gevoeligheid vir die goed- of afkeuring van andere in ons lewe ook ’n verkeerde rol speel. Dit kan meebring dat ’n mens na ander se oë begin kyk en afhanklik word van hulle opinie van jou. Jy kan begin om nie meer eerlik met die mense en die wêreld om te gaan nie, maar om ’n spel te speel om die goedkeuring van andere te wen. Nie die waarheid nie, maar andere se goedkeuring word dan die maatstaf vir wat jy sê of nie sê nie. So ’n mens het naderhand eintlik nie meer ’n eie persoonlikheid nie, want hy leer om sy mantel na die wind te draai.

Daar is dinge wat groter is as die goed- of afkeuring van mense. ’n Mens se persoonlike integriteit, jou liefde vir die waarheid en jou gehoorsaamheid aan God is almal kategorieë van ’n ander orde as die natuurlike gevoeligheid vir wat andere van jou dink. Hierdie dinge mag nooit in die gedrang gebring word deur ons begeerte om ander mense te behaag nie.

Hoe aangenaam dit ook kan wees as ons die guns van ander mense wegdra, dit mag tog nooit beteken dat ons bereid moet word om ’n prys daarvoor te betaal wat te hoog is nie. Die prysgawe van eerlikheid en gehoorsaamheid aan God is te hoë pryse om daarvoor te betaal. – WDJ