MANIPULASIE
Die Burger, 5 Desember 1981, bladsy 12
In ons omgang met ander mense is ons dikwels besig om hulle op die een of ander wyse te probeer manipuleer om te doen wat ons graag wil hê. Miskien is ’n mens self nie eens altyd daarvan bewus dat jy dit doen nie. Dit is so ingeweef in ons totaal selfgerigte benadering van die lewe dat ons dit net so spontaan en instinkmatig doen as wat ons onsself teen gevare beskerm of onaangenaamhede probeer ontwyk.
Manipulasie kan talle vorme aanneem, maar dit is altyd daarop bereken om die medemens te beweeg om ons belange te bevorder. Die doel word egter nie bereik deurdat die medemens gedwing word om ons begeertes te vervul nie. Ons weet maar alte goed dat dwang nie ’n profytlike metode is in ons omgang met andere nie. Dit wek verset en weersin, wat beteken dat die persoon van wie ons iets wil hê, kan weier om dit te doen, of in elk geval kan weier om dit meer as een keer te doen.
Die tegniek van manipulasie is daarop bereken om ’n medemens dienstig te maak aan ons belange deur te speel op sy swak punte, deur hom aan die neus te lei, deur hom met ’n slap riem te vang.
’n Baie gewilde manier van manipulasie is om ’n persoon te vlei en allerlei oordrewe en onegte vriendelike opmerkinge teenoor hom te maak, omdat ons meen om hom daardeur goedgesind teenoor ons te maak, sodat ons uit hom kan kry wat ons graag wil hê. ’n Mens kan dit selfs tot ’n fyn tegniek ontwikkel.
’n Goeie verkoopsman, ’n suksesvolle bestuurder of skoolhoof, ’n geslaagde dominee is dikwels mense wat die kuns van hierdie manipulasie deur aangeleerde belangstelling in en vriendelikheidjies teenoor andere, goed verstaan. Maar selfs binne ’n vriendekring kan daar diegene wees wat eenvoudig misbruik maak van die vriendskap ter wille van eiebelang.
Die ellende van manipulasie is dat ’n mens miskien wel jou sin kry, maar dat diegene wat deur jou gemanipuleer word, meesal goed genoeg aanvoel dat jou vriendelikheid nie eg is nie. Hulle doen wat jy wil hê, maar hou tog ’n slegte smaak daarvan in die mond oor. Vroeër of later moet dit homself wreek. Wanneer ’n mens agterkom dat iemand se vriendelikheid en komplimente nie werklik uit die hart kom nie, maar (om gebruik te maak van ’n titel van ’n boek van Dale Carnegie) daarop bereken is “to win friends and influence people”, gaan jou hart eerder vir hom toe as oop.
Die egte liefde en vriendelikheid van die hart is onvervangbaar. Dit dra ’n waarmerk wat uitgeken kan word deur diegene wat daardeur omring word.
Dit is nie daarop uit om iets van iemand anders te probeer kry nie, maar om iets te gee. Dit is nie ’n instrument van ons selfsug nie, maar juis die teenoorgestelde daarvan. Dit is ’n heenwysing na die liefde van God soos dit skyn in die aangesig van Jesus. – WDJ