POLARISASIE
Die Burger, 12 Desember 1981, bladsy 10
Een van die harde feite van ons land is dat daar ’n proses van polarisasie tussen die wit en die swart gemeenskappe aan die gang is. Wie dit nie raaksien nie of meen dat dit geïgnoreer of ontken moet word, het geen begrip van die ingewikkeldheid van die probleem waarmee ons in hierdie land gekonfronteer word nie. Hierdie feit van polarisasie is die harde rots wat verbrysel sal moet word, voordat ons werklik in vrede saam sal kan leef.
In werklikheid is Suid-Afrika twee verskillende wêrelde: dié van die witman en dié van die swartman. Die wit en die swart gemeenskappe ervaar die situasie in ons land totaal verskillend. Hul oordeel oor wat in ons land gebeur, verskil radikaal. Hul ideale vir die toekoms staan lynreg teenoor mekaar. Elke groep het sy eie denksisteem waarby al sy waardes ingepas is. En tussen die twee groepe is daar ’n byna onoorbrugbare kloof.
Die belangrike punt om raak te sien is dat hierdie kloof tussen die groepe nie beteken dat hulle los van mekaar staan nie. Inteendeel, die twee groepe is ten nouste op mekaar betrokke, nie alleen omdat hulle nou eenmaal saam in dieselfde land woon en dus met mekaar móét saamlewe nie, maar omdat hulle gestempel word deur hul verhouding tot mekaar.
Die twee groepe word juis in groot mate as groepe gekonstitueer deur hoe hulle na mekaar kyk. Die swartman sien die witman as onderdrukker, en die witman sien die swartman as ’n bedreiging. Dit beteken dat hul oriëntasie met betrekking tot mekaar hoofsaaklik negatief is. Dit is egter ’n gelade negatiwiteit wat ernstige gevolge kan inhou.
As daar vir die toekoms enigsins positiewe vooruitsigte moet wees, moet hierdie polarisasie gestuit en ontlont word. Daar moet na versoening gesoek word. Daar moet ’n brug oor die kloof gebou word, anders sal daar ’n punt kom waar die polarisasie ’n onherstelbare breuk word, met vernietigende gevolge.
Versoening is egter nooit maklik nie. Elkeen wat dit probeer bewerk, moet teen die stroom op roei. In ’n situasie van polarisasie is ’n mens eintlik net aanvaarbaar as jy jouself onvoorwaardelik met een van die pole identifiseer teenoor die ander pool – anders word jy beskou as ’n oorloper of ’n draadsitter. Jy loop gevaar om deur albei kante verwerp te word. Hoeveel wysheid, moed, liefde en karakter het ’n mens nodig om dit uit te hou teen die druk om mee te doen aan die polarisasie! Dit is soveel makliker om jouself kritiekloos te vereenselwig met die sentimente, maar daarmee ook met die vooroordele en kortsigtighede van ’n bepaalde kamp.
Maar sou Christus nie van ons verwag om eerder die pynlike weg van versoening te bewandel nie? As daar genoeg mense is wat die prys daarvan wil betaal, word dit ’n brug van weerskante oor die gapende kloof. Mag dit tog gebeur! – WDJ