Tyd vir stilte

TYD VIR STILTE
Die Burger, 19 Desember 1981, bladsy 10

Ons soort samelewing word gekenmerk deur ’n groot gejaagdheid en drukte. Daar is niemand met wie ’n mens kan praat wat nie kla oor die baie werk wat moet klaarkom, maar waarvoor daar geen tyd is nie. Hier lê waarskynlik een van die grootste oorsake van baie van ons siektes en psigiese probleme, van ons hartaanvalle en frustrasie.

Daarom is rustyd ook so belangrik. Geen mens kan die tempo waarin ons leef volhou as hy nie tyd neem vir rus nie. Ongelukkig is dit moeiliker om te rus as wat ’n mens dink. Rus is nie maar net ophou om te werk nie. ’n Mens kan ophou werk en tog nog jou innerlike drukte en gejaagdheid met jou saamdra. Daarom help ons nagte se slaap soms so min. Ons probleme gaan saam met ons bed toe en in ons onderbewuste is ons nog steeds daarmee besig. Dieselfde geld ook vir die naweke. Die vaart waarmee ons lewe, is te groot om binne ’n beperkte tyd tot stilstand gebring te word.

Om werklik te kan rus het ’n mens tyd nodig – tyd om stil te word en na die bronne van jou bestaan terug te keer. Ons is nie werklik masjiene nie, al probeer ons ook ons bes om van onsself masjiene te maak. Ons is lewende wesens, deel van die natuur. In die natuur het alles tyd nodig om te herstel. ’n Gekneusde of geknakte plantjie het tyd nodig om te genees. Ook ’n mens se gees het tyd nodig om weer vars en nuut te word.

Natuurlik is tyd alleen nie genoeg nie. ’n Mens se gees moet tot stilte kom in jou. Daar moet doelbewus na vrede gesoek word. ’n Mens se gees kan net genees as daar vrede in jou is. En ’n mens kan alleen vrede hê as jy innerlik tot vrede gekom het met jouself. Dit is eintlik rus. Fisieke rus sonder innerlike vrede baat niks nie. Maar innerlike vrede met jouself vind ’n mens net as jy vrede het met God. God is die diepste grond van ons bestaan.

Slegs as ’n mens deur vergiffenis met God versoen is, kan jou siel terugkeer tot sy rus. So sê die Psalmdigter ook aan homself: “My siel, keer terug tot jou rus, want God het goed aan jou gedoen” (Psalm 116:7).

Dit is ’n groot gevaar dat ons in ons vakansiedae te veel ontspanning buite onsself wil soek, en te min tyd neem vir stilte om weer ’n keer met God, met onsself en met die lewe in die reine te kom. Groot partytjies, oppervlakkige, kunsmatige vrolikheid, skreeuende musiek, allerlei vorms van opwindende en gewaagde plesierigheid – dit bring nie regte rus nie. Die egte vreugde van Kersfees vind ’n mens in die stilte.

Ons almal het daaraan behoefte om in hierdie dae die genesende stilte van gemeenskap met Christus op te soek. Dit is beter om êrens stil te wees met die Bybel, as om allerlei dinge te doen wat ons nie na die bronne van ons bestaan terugvoer nie. Kom ons stel dit op die proef. – WDJ