’N LEWENDE VERLANGE
Die Burger, 16 Januarie 1982, bladsy 8
Die Westerse kultuur word sedert die agtiende eeu gekenmerk deur die heerskappy van die menslike rede. Dit het meegebring dat die Westerse mens homself in groot mate bevry het van vrees vir geeste en demone, heksery en allerlei ander grillerige dinge wat die lewe van primitiewe volkere gevange hou. In die lig van die menslike rede het die wêreld self lig geword en oopgegaan vir beheersing deur die mens.
Niemand sal kan betwyfel dat dit op sigself ’n positiewe kant gehad het nie. Die ontwikkeling van die wetenskap en tegniek was die direkte vrug van die nuwe lewensinstelling van die redelike mens. Die mens se beheersing van die aarde het ongekende hoogtes bereik. Wie van ons sou wil terugkeer na die Middeleeue, na die tyd voor die aanvang van die moderne tyd met sy skat van kennis en sy enorme vaardighede?
Tog kan dit nie ontken word nie dat daar by die Westerse mens ’n groot verskraling ingetree het. Goed, ons het die geeste en die spoke en hekse uitgedryf; ons het nugtere en wetenskaplike mense geword; ons het geleer om die wetmatighede van die skepping te verstaan en baie van die geheime van die heelal te ontsluit. Maar het die Westerse mens in dié proses nie ook veel verloor nie?
Die Weste het versekulariseer geraak. Daarmee bedoel ons dat die Westerse mens in groot mate sy sin vir God en die Geestelike dimensie van ons bestaan verloor het en begin dink en leef het asof die wêreld soos ons dit kan beleef en beheers, alles is wat bestaan. Nie net die Middeleeuse oorheersing deur die kerk is afgewerp nie – wat op sigself goed was – maar die sogenaamde mondige mens het gemeen dat hy heeltemal sonder gemeenskap met God kon klaarkom. Nie net spoke en geeste is uitgeban nie, maar die mens het ook sy besef verloor van die domein van die Gees van God sonder Wie se aanraking ons siel verdor.
Wie egter sou dink dat die moderne mens daarmee gelukkig is, maak ’n groot fout. Daar is ’n groot leegte in sy hart gelaat. ’n Mens kan nie van brood alleen lewe nie. Sy siel soek ’n houvas in ’n vaste fondament. As die geloof in God prysgegee word, ontstaan daar ’n lugleegte wat gevul moet word met iets anders waarin die mens kan glo en waaraan hy homself kan vasklem.
Die opbloei van belangstelling in die okkulte of in die Oosterse mistiek, en die bereidheid by talle mense om die grillerigste dinge te glo, openbaar hoe ook die moderne mens smag na gemeenskap met God, dikwels sonder dat hy dit self besef.
Geen enkele surrogaat kan egter die verlange na God in ’n mens se hart bevredig nie. Elke ding waarna ’n mens gryp om jou hart daarop te sit, word ’n teleurstelling en ’n ontnugtering. Net God self kan ons siel versadig. Daarom is daar so ’n groot onrus, gejaagdheid en gevoel van verydeling by miljoene moderne mense. Hulle verbeel hulle dat hulle by die evangelie verby is, sonder dat hulle die evangelie nog ooit goed gehoor het. Die lewende verlange van die hart kan egter net deur die evangelie gestil word. – WDJ