Wie is my naaste?

Die Burger, 30 Januarie 1982, bladsy 10
WIE IS MY NAASTE?

Almal wat hulself as Christene beskou, weet dat Christus die wet van God vir ons saamgevat het in die dubbel-gebod van die liefde. Hulle weet ook dat Christus daarin van ons vra om ons naaste lief te hê soos onsself. Dit word deur niemand ontken of bestry nie. Tog vind ons dikwels dat mense die betekenis van die gebod tot naasteliefde wil verskraal deur die begrip “naaste” op ’n bepaalde manier te kwalifiseer. Die gevolg is dat hulle nie alle mense as hulle naastes wil beskou nie en hulself ontslae ag van die gebod tot liefde teenoor diegene wat deur omskrywing van die naaste uitgesluit word.

Agter die skynbaar teoretiese vraag: Wie is my naaste? Sit dus die onwil van die mens se sondige hart om ongekwalifiseerd die medemens as medemens te aanvaar en lief te hê.

Dit laat Lukas ons duidelik sien in sy berig oor die gelykenis van die barmhartige Samaritaan (Lukas 10). Jesus het hierdie gelykenis vertel aan die wetsgeleerde wat “homself wou regverdig”, dit is: wat sy gebrek aan liefde teenoor alle mense wat rondom hom op sy goedheid aanspraak maak, wou goedpraat deur ’n strydvraag op te werp oor die probleem wie dan nou eintlik sy naaste sou wees.

In die gelykenis van die barmhartige Samaritaan toon Jesus aan dat dit in die gebod tot naasteliefde nie om ’n teoretiese bepaalde en afgebakende naaste gaan nie. Die naaste is die man wat in die praktiese lewensituasies op my weg kom en vanweë sy nood eenvoudig my naaste is, net soos ek deur my vermoë om hom te help, sy naaste is. Hier is geen grense te trek wat my liefdeloosheid kan verontskuldig nie.

In sy gelykenis draai Jesus die vraag van die wetsgeleerde om. In plaas daarvan dat hy ’n antwoord gee op die vraag wie my naaste is, formuleer hy die vraag anders, naamlik: wie se naaste is ek? In die gelykenis betoon die Samaritaan homself die naaste van die arme verwonde mens langs die pad, in teenstelling met die priester en die Leviet wat wel die naaste se nood sien, maar daaroor uit die weg gaan.

Wie hieruit sou wil aflei dat ’n mens se naaste dus diegene is wat goed aan jou doen, sodat jy slegs hulle moet liefhê, het geen begrip van wat Jesus wil sê nie. So ’n opvatting is in elk geval vierkant in stryd met wat Jesus in Matteus 5:43 – en verder – leer, waar Hy selfs ons vyande tot ons naaste verklaar. Jesus wys juis daarop dat ons nie net dié moet liefhê wat ons liefhet of goed moet doen aan dié wat eerste aan ons goed doen nie, maar dat ons kinders van ons Hemelse Vader moet wees wat sy son laat opgaan oor goeies en slegtes.

Nee, wat Jesus in die gelykenis wil sê is dat ’n mens deur jou praktiese optrede liefde moet betoon aan elkeen wat daarvoor in aanmerking kom, omdat hy deur God op jou weg geplaas word. Geen enkele spitsvondige redenasie kan ons ontslaan van die verantwoordelikheid wat ons vir elke ander mens langs die weg het nie.
– WDJ