DODELIKE MONSTER
Die Burger, 6 Februarie 1982, bladsy 8
Dit is so jammer dat ’n mens aan haas alles gewoon kan raak. Die mooiste en heerlikste dinge van ons lewe word daardeur op die duur vir ons glansloos en vanselfsprekend. Die Nederlanders noem dit “gewenning”. In Afrikaans gebruik ons dié begrip nie, maar die saak waarom dit gaan is ongelukkig universeel.
Daar is duisende voorbeelde om dit te illustreer.
Dink maar aan die maklike manier waarop ons gewoond raak aan sulke voorregte as ons gesondheid, ons verstandelike vermoëns, die gebruik van ons sintuie, die belangstelling en sorg van andere, die voorreg om te kan werk en te kan speel – en alles wat vir ons tot ’n normale lewe behoort.
Daar is letterlik miljoene mense wat hierdie voorregte nie het nie, vir wie dit één groot verrukking sou beteken het om ook één krummeltjie te kon optel wat van die tafel van ons lewensrykdom afval. Maar ons beskou dit as die mees gewone dinge wat bestaan en kla nog dikwels as ons iets minder goed daarmee bedeeld is as andere. Dit kos dikwels ’n diep insnyding in die gewone gang van ons lewe en die verlies van ’n deel van wat ons so agteloos geniet het, voordat ons tot besinning kom en die waarde daarvan begin besef.
Of dink maar aan die liefde tussen man vrou. Daar is ’n tyd in die lewe van ’n man en vrou dat hulle mekaar ontdek en vind in die liefde. Dit is ’n tyd van verrukking en vreugde en vorm vir hulle ’n lewensvervulling waarvan hulle meen dat dit onoortreflik en onverganklik sal wees. Hulle sweer trou aan mekaar en hulle bedoel dit.
Maar dan kom die gewenning. Soos die tyd aan ons liggaamlike en geestelike bestaan kerwe, bewerk dit ook erosie in ons vreugde aan mekaar. Baie mense kan hulle naderhand nie meer voorstel dat hulle vroeër só oor mekaar gevoel het as wat hulle gevoel het nie. Die dodelike monster van gewenning het hul blydskap verteer. Hul verhouding word saai en in meer s een opsig betekenisloos.
Die ergste is egter dat dit ook gebeur in ons verhouding tot God. Daar is geen groter vreugde as die vreugde van ’n mens wat God gevind het nie. Wie deur die Gees van God aangeraak is, weet dat daar met hom iets gebeur het wat die karakter van die ewigheid dra. Dit is iets onherroepliks.
Gelukkig is die mens wat weet wat dit is om dae lank, maande lank, jare lank op die toppe van die berge te loop in die vreugde van die gemeenskap met God, wie se liefde nooit oud word nie. En tog kan die gewenning ook hier intree. Mense kan gewoond raak aan die Bybel, aan die beloftes van God, aan die liefdeswoorde van die gemeenskap met God, en versink in ’n geestelike dorheid wat geen vreugde meer ken nie.
Daar is maar één raad teen gewenning: keer terug na die bron. Soms kos dit niks minder nie as ’n diepe insnyding in ons lewe, het ons gesê. In elk geval kos dit die genade van God. Dit is genade as ’n mens kan stilstaan op jou weg en jou oë oopgaan vir alles waarvoor jy dankbaar moet wees, vir alles wat lieflik is, vir alles wat ewig is. Waarom sou ons God nie vra om dit aan ons te gee nie? – WDJ