OP ’N ANDER VLAK
Die Burger, 13 Februarie 1982, bladsy 8
’n Mens kan baie maklik onder die indruk kom dat Christenskap nie eintlik aan ’n mens verskil maak nie. Veral binne ’n gemeenskap wat in sy geheel as ’n Christen gemeenskap bekend staan, lyk dit soms of Christen-wees dieselfde is as om ’n ordentlike lewe te lei, nie in botsing te kom met die algemene waardesisteem van die gemeenskap nie en te glo in ’n aantal geestelike waarhede wat blykbaar nie veel verskil aan die lewenspraktyk maak nie.
Hierdie voorstelling van sake is egter ’n totale misvatting. Christenskap is iets anders as konformering met die beter laag van die samelewing en sy burgerlike waardes. Niks kan skadeliker wees vir die Christendom as die vereenselwiging daarvan met die gepoleerde deel van die wêreld nie. Hoe belangrik burgerlike ordentlikheid ook al vir ons aardse lewe is en hoe onmisbaar dit ook al vir die voortbestaan van ’n gemeenskap is, Christenskap is tog nog iets anders as dit. Egte Christenskap lê selfs op ’n totaal ander vlak.
Daarom staan egte Christenskap dikwels ook haaks op die wêreld van die deursnee-ordentlikheid, nie omdat dit teen ordentlikheid en beskaafdheid is nie, maar omdat dit dieper gaan as konformering met wat bloot gangbaar is in die gemeenskap. Dit vra ’n lewensinstelling van volkome geregtigheid op God en die medemens, wat op ’n ander vlak lê as blote burgerlike geregtigheid. Daarom was Jesus ook so vreemd vir die mense – selfs die godsdienstige mense van sy tyd. Vanaf die Fariseërs met hul wettiese ordentlikheid na Jesus met sy liefde en nederigheid moet ’n mens ’n oorgang na iets van ’n ander orde maak.
In die burgerlike samelewing is alles uiteindelik gerig op die handhawing van die self en die bevordering van eie belang. Ordentlikheid beteken meesal dat ’n mens dit op sodanige wyse doen dat jy ander nie te opsigtelik in die proses affronteer nie, omdat dit op die lang duur nie in die belang van jou eie saak sal wees nie. Dit kom daarop neer dat ’n mens alles najaag wat die wêreld in sy sondigheid najaag, maar dat jy dit stylvol doen. ’n Mens is dan net so geldgierig as andere, net so hebsugtig en eersugtig, net so vasgevang in die konkurrensie-sug as alle ander mense, maar jy wys dit nie so onbeskaamd as hulle nie. Jy noem die dinge nie by hulle lelike name nie, maar soek ’n beskaafde terminologie. Jy leer die kuns om kalm te bly as jy innerlik woedend is, en om voor die oë van die wêreld nie jou war gevoelens te laat blyk nie.
Laat niemand dit tog met egte Christenskap of heiligmaking verwar nie. Waar Christus ’n mens verlos, maak Hy jou innerlik vry van die dinge waaraan ’n verloste mens sy hele lewe wy. Verlossing beteken ten minste dat ’n mens se glimlag eg word en nie meer gefabriseer is nie. Dit beteken dat ’n mens dít begin word wat jy eers voorgegee het om te wees. – WDJ