Ons grootste vyand

ONS GROOTSTE VYAND
Die Burger, 20 Februarie 1982, bladsy 10

Hoewel ons dikwels meen dat ons grootste vyand hierdie of daardie persoon is wat dit nie goed met ons bedoel nie en dus graag ons ondergang wil bewerk, is dit meesal waar dat ons self ons eie grootste vyand is.

Almal van ons sal die een of ander persoon ken wat ’n lewende illustrasie van hierdie stelling is. Daar is mense wat onophoudelik in allerlei moeilikhede en probleme betrokke is. Daar gaan nie ’n dag verby sonder dat hulle een of meer kere met ander mense bots nie. Hulle maak vyande sover as wat hulle gaan. Hulle verkeer voortdurend onder die indruk dat ander mense hulle veronreg en hulle voel dit as hul roeping om oral en altyd orde op sake te stel deur aan andere te sê wat hulle verkeerd doen. In hul eie oë kan hulle self nooit ’n fout maak nie, maar daar is letterlik niemand wat hul weg kruis wat nie in aanmerking kom vir kritiese kommentaar van hul kant nie.

Sulke mense is hul eie vyande. Hulle vernietig letterlik met hul eie hande alle moontlikhede om ’n normale en gelukkige bestaan saam met andere te kan voer. Goeie vriende het hulle eintlik nooit, of dit moet mense sonder ’n persoonlikheid wees wat ’n sekere masochistiese behae daarin skep om deur ’n ander persoon rondgestamp te word en hom juis daarom met ’n slaafse soort verering bly aanhang. Juis sulke persone is egter nie daartoe in staat om hulle van hul heillose weg en maniere te laat afsien nie.

Die gevolg is egter dat hulle steeds meer vervreemd raak van ander mense en selfs van die werklikheid, omdat ’n mens wat altyd in sy eie oë gelyk het, noodwendig eensydig moet wees, mateloos partydig teenoor homself en gevolglik ook skeef in sy beoordeling van die werklikheid. Hy word ’n soort Uilspieël van wie die spreekwoord sê: Almal haat hom, maar hy maak daarna.

Die beeld wat hier geteken word, is uiteraard ’n soort karikatuur om die saak waarom dit gaan, duidelik te probeer maak. In die praktyk is mense meesal minder rigoristies en kom dit gelukkig nie altyd tot uiterste vervreemding en vereensaming nie. Dit neem egter niks daarvan weg dat hierdie verskynsel voorkom nie, en – juis in ’n minder rigoristiese gestalte – by baie meer mense as wat ’n mens aanvanklik dink. Daar is selfs ’n sin waarin dit van ons almal geld dat ons ons eie vyande is. Ten diepste soek ons nie ons eie heil en beswil nie, maar ons eie ondergang.

Ons eie sondige geaardheid, ons onmag om te wees wat ons behoort te wees, ons diepgewortelde onwil tot die goeie, ons traagheid en selfliefde, ons doodgewone domheid is gevaarliker en dodeliker vyande van ons eie geluk as enige bedreiging van buite.

Daarom kom lewensvolheid vir ’n mens ook nooit van buite af nie, maar alleen van binne af – deur ’n innerlike verandering en vernuwing van die hart en geaardheid. Vrede met andere en met onsself, vloei altyd voort uit vrede met God. – WDJ