Dit kan te laat wees

DIT KAN TE LAAT WEES
Die Burger, 6 Maart 1982, bladsy 10

In ’n aangrypende brief van ’n vriend uit een van die swart Afrika-state word vertel van die besoek van ’n onderwys-afvaardiging uit Noord-Korea aan die skool waar hy onderwys gee. Die doel was om meer kontak op die terrein van die onderwys te bewerk.

Vir my vriend was dit ’n ontsettende ervaring om vir die eerste keer in sy lewe van aangesig tot aangesig gekonfronteer te word deur egte Kommuniste. Vir sy swart kollegas was die ervaring nie minder skrikwekkend nie. Vier uur lank moes hulle ’n gesprek probeer voer met mense wat vir hul gevoel het, van ’n ander planeet af kom. Uitdrukkinglose gesigte sonder enige merkbare emosie en ’n staalkoue afstand staan tussen hulle en die kamerade uit die bevriende land.

Juis daarom stel een van die swart kollegas ’n vraag wat skielik vir hom en andere van die grootste belang geword het: Hoe staan dit met godsdiensonderrig in Noord-Korea? Na ’n merkbare ongemaklikheid antwoord die afvaardiging: By hulle in Noord-Korea is daar wel nog enkele mense wat godsdienstig is, maar niemand daar glo meer in God nie. Hulle is daarvan oortuig dat die mens die meester is van sy eie lot.

Dit was duidelik, skryf my vriend, dat hierdie opmerkings en ander wat soortgelyk was, baie sleg deur sy swart kollegas ontvang is. Skielik was daar die gevoel dat swart en wit besef dat hulle eintlik baie digter aan mekaar staan as wat hulle tevore gedink het. In die aangesig van mense wat blatante Kommuniste is en sonder die bedekking van propaganda presies sê waarvoor hulle staan, het swart en wit kollegas by dié skool duideliker as tevore besef dat hulle vanweë Christelike belydenis ’n gemeenskaplike front betrek teenoor die brutaliteit van die ongeloof. In dié sin het die besoek groot nut gehad.

Die vraag wat ontstaan, is of dié besef nie net te laat deurgebreek het nie. Laat ons hoop en bid dat dit nie die geval is nie.

Intussen is die werklikheid egter dat Noord-Korea en ander Kommunistiese state tans die “bevriende lande” is van die staat waarvan hierdie groep onderwysers burgers is. Die poorte van hulle samelewing staan tans wyd oop vir beïnvloeding uit daardie oord. Dit is nie onmoontlik nie dat ’n goed deurdagte politieke spel gevoer word om so ’n staat steeds meer binne die sfeer van invloed en selfs heerskappy van die Marxisme te laat beland. En aan die ander kant is dit net so seker dat die land waaruit my wit vriend oorspronklik kom, Suid-Afrika, as vyand nommer een van daardie staat gesien word.

Waarom het ons tog toegelaat dat so ’n toestand ontwikkel? Waarom het ons nie voor dit te laat was, swart Afrika laat verstaan dat ons juis as Christene hul beste vriende is nie? En is ons seker dat ons deur ons optrede nie dalk mede-verantwoordelik daarvoor sal wees as swartmense in ons eie land te laat ontdek dat hulle en ons mekaar se bondgenote behoort te wees nie? – WDJ