DIT IS FEITLIK ONMOONTLIK
Die Burger, 27 Maart 1982, bladsy 10
Dit is feitlik onmoontlik om ’n mens te oortuig van iets waarvan hy nie oortuig wil word nie. Die mees klinkende argumente, die mees logiese redenasie, die mees onbetwisbare feite wat gevoer kan word, is nie genoeg om ’n mens van insig te laat verander as hy homself innerlik daarteen verset het nie.
Waarom verset ’n mens homself so daarteen om van insig te verander? Omdat sy belange daarmee gemoeid is. Wanneer dit om sake gaan wat ons nie regstreeks raak nie, soos byvoorbeeld oor allerlei wetenskaplike gegewens waarvan ons op ’n min of meer neutrale manier kennis kan neem, het ons meesal geen probleem om dit te glo nie. Hoe meer dit egter duidelik word dat die gegewens waarom dit gaan van ons ’n beslissing vra wat ons persoonlike belange op die een of ander wyse gaan raak, hoe moeiliker word dit vir ons om iets te glo wat daarop kan uitloop dat ons belange soos ons dit sien, geskaad kan word.
Die gevolg is dat ons altyd op die een of ander manier probeer om onder die klemmende krag van die feite uit te kom. Die een moontlikheid is dat ons probeer om die feite te ontken of aan te toon dat hulle nie volledig is nie. Die ander moontlikheid is om ’n interpretasie aan die feite te heg wat hulle tot bevestiging van ons standpunte maak. Wanneer dit egter moeilik of selfs onmoontlik is om een van hierdie twee weë te volg, ontdek ons by onsself dat ons kwaad word daaroor. ’n Soort magtelose woede maak homself van ons meester. Ons voel onsself gekonfronteer met feite wat ons nie kan ignoreer nie, maar wat ons tog nie durf aanvaar nie omdat dit konsekwensies vir ons gaan hê wat vir ons onaanvaarbaar is.
Wanneer ons by onsself hierdie emosionele reaksie ontdek, moet ons uiters versigtig wees. Dit is die rooi waarskuwingslig wat ons aandag daarop wil vestig dat ons gevaar loop om ons morele integriteit prys te gee. Wanneer ’n mens doelbewus weier om feite wat onder sy aandag kom in aanmerking te neem, verkrag hy sy gewete en sy adel as redelike wese – dit kan nooit sonder ernstige gevolge vir sy innerlike lewe wees nie. Dit is dus van die grootste belang dat ’n mens altyd moet vasstel of die hitte wat jy onder jou boordjie voel opslaan, die resultaat is van jou ywer vír die waarheid en of dit die resultaat is van jou verleentheid mét die waarheid.
Omdat ons vanweë ons sondige aard nie vry is vir die waarheid nie, is dit feitlik onmoontlik om ons te oortuig van insigte wat ingaan teen ons eiebelang. Tensy daar natuurlik deur Gods genade iets gebeur waardeur ons bereid word om voor die waarheid te buig. Maar dan maak die waarheid ons ook vry – soos Christus beloof het. Die waarheid bedreig nooit werklik ons hoogste belange nie. Inteendeel, daarsonder moet ons vergaan. – WDJ