DIE VERLOËNING VAN JESUS
Die Burger, 3 April 1982, bladsy 10
In die lydenstyd word daar dikwels gepreek oor die verloëning van Jesus deur Petrus. Die gewildheid van hierdie episode uit die lydensgeskiedenis hang ongetwyfeld saam met die direkte wyse waarop dit tot ons spreek. Dit is onmoontlik vir die mens wat homself enigsins ken, om nie te besef dat hy dikwels soos Petrus teenoor Jesus optree nie.
Uiteraard verskil ons omstandighede van dié van Petrus. Ons is nie op dieselfde wyse betrokke by die letterlike lydensgeskiedenis van Jesus nie. Ons beleef nie soos hy die verwarring van die nag vol drama en spanning rondom die gevangeneming en verhoor van Jesus nie. Ons staan op ’n veel groter afstand van die historiese Jesus as hy en word in ’n totaal ander situasie gevra na ons verbintenis met Jesus.
Maar ons verloën Jesus tog in ons eie omstandighede en in ons eie terme op ’n wyse wat niks minder ergerlik is as die verloëning van Petrus nie. Dit gebeur oral waar ons terugskrik van die konsekwensies van egte Christenskap. Dit is net ’n Christen wat Christus werklik kan verloën.
’n Christen is iemand wat die roepstem van Christus gehoor het en homself bereid verklaar het om Christus te volg. Die navolging van Christus beteken om Christus te volg op die weg na die kruis en om met Hom gekruisig te word. Die verloëning van Christus bestaan daarin dat ’n mens terugskrik van die konsekwensies van die identifikasie met Christus en dus wegdraai van die kruis.
Oral waar ’n mens vir homself kies en vir sy liewe lyfsbehoud in plaas van vir identifikasie met Christus selfs tot in die dood, het ons met die verloëning van Jesus te make. In die geval van Petrus was dit tog duidelik só. Die haglike was dat dit juis hy was wat met soveel bravade beloof het om aan Christus getrou te bly tot in die dood. Toe dit egter op ’n keuse uitloop tussen hom en Jesus, het hy vir homself gekies.
Omdat ons in ander omstandighede verkeer as Petrus, word ons nie dikwels deur ’n diensmeisie getart tot op die punt waar ons soos Petrus met ’n eed ons verbondenheid met Jesus ontken nie. Tog moet ons nie dink dat die vraag na die egtheid van ons identifikasie met Christus nie duisendvoudig aan ons gestel word in die praktyk van ons lewe nie. Elke dag staan ons op elke terrein van ons lewe voor die keuse om vir onsself en teen Jesus te kies, of vir Jesus en teen onsself. Die omstandighede wissel, maar die elementêre keuse van ons lewe is altyd dieselfde.
As ’n mens jouself goed genoeg ken, het jy genoeg rede om soos Petrus te huil oor jou onsinnige verloëning van Jesus in byna alle dinge wat jy doen. Soms dink ’n mens dat ons hele lewenshouding en lewensinstelling één groot verloëning van Jesus is. – WDJ