DIT WAS VIR ONS
Die Burger, 9 April 1982, bladsy 8
Daar is baie opsigte waarin die geestelike insig van die Christelike kerkvolk ver benede die vlak van die amptelike belydenis van die kerk bly.
Hoewel lidmate van die kerk met ’n goeie gemoed verklaar dat hulle die geloof van die kerk toegedaan is; hoewel hulle in die eredienste die liedere van die kerk sing en die belydenis van die kerk herhaal; en hoewel baie van hulle die Bybel lees en eerlik bedoel om te glo wat daarin staan, blyk dit in die praktyk dikwels dat hulle van die werklike bedoeling van die evangelie maar min verstaan. Dit is of die goeie tyding maar net nie tot hulle kan deurdring nie.
Miskien kan dit nêrens duideliker geïllustreer word as aan die betekenis van Goeie Vrydag nie. Almal van ons weet waarom hierdie dag “Goeie Vrydag” genoem word. Seker, Jesus het vir ons sondes gesterwe. Hy het Homself as Middelaar in ons plek gestel. Die straf wat vir ons die vrede aanbring, was op Hom, en deur sy wonde het daar vir ons genesing gekom. Wie weet dit nie? Die kinders weet dit en elkeen wat ook maar enigsins kontak met die kerk gehad het, sal die verhaal kan vertel.
Maar hoeveel lidmate van die kerk glo dit ook werklik?
Om dit te toets moet ’n mens maar met mense begin gesels oor die vraag of hulle sekerheid daaroor het dat hul saak met God reg is. Dan kry jy allerhande antwoorde. Die meeste mense sal sê dat dit tog onmoontlik is vir ’n mens om te weet of hy gered is en dus met vrymoedigheid die dood tegemoet kan gaan omdat hy seker is dat hy in die ewige vreugde met Christus sal deel.
Vra jy waarom hy so dink, dan antwoord iemand wat selfs ’n gereelde kerkganger kan wees, dat ons tog almal te veel sonde doen en ver te kort skiet om ooit van onsself te kan sê dat ons kinders van God is wie se saak met God reg is.
Die opvatting wat ten grondslag aan hierdie antwoord lê, is duidelik: ’n mens moet self deur jou eie goeie lewe of deur die kwaliteit van jou geloof of hoe dan ook die waardigheid verdien om gered te kan word. Maar hoe kan ’n mens tog ooit sê dat jy goed genoeg is of sterk genoeg glo? Inteendeel, waar ons tog almal weet hoe ver ons te kort skiet, pas dit ons om liewer beskeie te wees en onsself nie aan te matig dat ons goed genoeg is om kinders van God te wees nie. Al wat ’n mens kan doen, is om maar jou bes te probeer en verder te hoop dat God nie te hard oor jou sal oordeel nie.
Hierdie soort opvatting hou in geen enkele opsig rekening met die Christelike evangelie nie. Dit is puur heidens en moralisties. Wie só praat, openbaar in elk geval dat hy niks van die betekenis van Goeie Vrydag verstaan nie.
As ons deur ons eie goeie lewe gered word, waarom het Jesus dan nodig gehad om vir ons te sterwe? Word ons dan nie sonder verdienste gered, enkel en alleen ter wille van Christus wat ons straf gedra het en die ewige lewe vir ons verkry het nie? Maar dan is dit mos ’n totale miskenning van die evangelie om nog steeds buite Jesus om, buite sy kruis om, ons bes te probeer doen om gered e word!
Baie lidmate van die kerk sal miskien selfs op Goeie Vrydag kerk toe gaan en mooi liedere oor die soendood van Christus sing, sonder om te verstaan dat dit iets met hulself te make het, dat dit alles vir hulle geskied het. Maar so gaan die evangelie van Gods genade aan hulle verby.
’n Mens weet alleen wat Goeie Vrydag beteken as jy nie net met jou verstand nie, maar ook met jou hart aanvaar: Dit was vir ons, dit was vir my! – WDJ