Deur die dood tot die lewe

DEUR DIE DOOD TOT DIE LEWE
Die Burger, 17 April 1982, bladsy 10

Die evangelie van die kruis en die opstanding van Christus openbaar aan ons dat daar werklik geweldige dinge moes gebeur het om ons armsalige lewe te red. Daar moet werklik deur die dood heengegaan word as ons met God lewensgemeenskap moet hê.

Dit is nie so dat ons net soos ons is na God kan gaan nie. Allermins is dit so dat ons onsself maar net op ’n moralistiese wyse kan verbeter en dat ons dan vir God aanvaarbaar sou wees. Dit is ’n oer-heidense idee dan die mens uit eie kragte en deur self-verbetering goed genoeg kan word vir die gemeenskap met God. Die Bybel leer ons dat dit onmoontlik is.

As ons met God gemeenskap moet hê, dan kan dit alleen gebeur aan die ander kant van die vuurlinie, die doodslinie wat God en die sondaar van mekaar skei. Eers as ons ou mens gedood is, kan die nuwe mens opstaan wat met God gemeenskap kan hê.

Die Ou Testament beeld dit reeds uit in die offers. Sonder bloedstorting is geen gemeenskap met God moontlik nie. Gods oordeel moet eers oor die ou lewe heengaan en dit vernietig, sodat daar dan ’n herskepping kan plaasvind – ’n opwekking uit die dood in ’n nuwe onverganklike lewe. Die bedoeling van die offers is dat die sondaar sy ou lewe simbolies saam met die offer in die dood aflê, sodat God in hom deur sy Gees die nuwe lewe kan opwek.

Dit alles het heengewys na Jesus, wat die Mens is in wie ons almal saamgevat is, sodat Hy ons almal kan verteenwoordig. Omdat Hy ons as sondaars verteenwoordig en ons sonde op Homself geneem het, moes Hy ook plaasbekledend die vloekdood vir ons sterf.

Die Bybel sê: Toe Hy gesterf het, het ons almal in Hom gesterf. Ons ou lewe is in die dood oorgegee. Ons is met Christus gekruisig. Verborge in Hom, het ons ou mens reeds gesterwe. Ons ou sondige geaardheid behoort eintlik al tot die verlede, iets wat agter ons lê. Ons nuwe werklikheid, ons eintlike werklikheid is geleë in die feit dat ons met Christus opgewek is uit die dood.

Wat in Christus met ons gebeur het, word deur die Heilige Gees oorgebring in die praktyk van ons bestaan. Die Heilige Gees maak ons aan die dood van Christus gelykvormig deurdat Hy ons daartoe in staat stel om ons ou geaardheid hoe langer hoe meer te dood. Ons leer om onsself te kruisig. Ons sterwe saam met Christus moet wáár word in ons aflegging van alles wat tuis hoort by die ou sondige geaardheid wat ons van nature eie is. Daarsonder kan ons geen gemeenskap met God hê nie. Maar ook ons opstanding met Christus word deur die gees waar gemaak in ons lewe. Ons leer om uit die geloof te lewe. Ons leer om anders na die dinge te kyk. Ons ontdek wat dit is om regtig lief te hê. Ons word verras deur die vreugde van blydskap in God. – WDJ