ONS MOET DIT UITBAN
Die Burger, 24 April 1982, bladsy 10
Baie Christene ervaar stagnasie in hul geestelike lewe. Hulle mis die vreugde en innerlike blydskap wat die kenmerk behoort te wees van ’n mens wat met God wandel. Dikwels vra hulle hulself af waarom dit so is, terwyl hulle dit tog opreg begeer en daarom bid.
Die rede kan baie eenvoudiger wees as wat hulle dink. Dit kan wees dat hulle in hulle hart bepaalde blokkasies het wat dit vir hulle onmoontlik maak om hulself volkome toe te vertrou aan die genade van God en die vreugde wat daaruit voortvloei.
Hierdie blokkasies kan van allerlei aard wees. Daar is egter veral één gestalte daarvan wat besonder dikwels voorkom in ons lewe en dikwels die oorsaak is van ons geestelike armoede. Dit is dat ons toelaat dat griewe, wrok en innerlike afkeer van andere in ons hart ’n plek inneem.
Daar is baie mense wat ons leed en onreg aandoen. Soms het ons werklik rede om vir mense kwaad te wees. Hulle verneder ons, beledig ons, veronreg ons, vervolg ons. Soms slaag hulle daarin om ons naam in die gedrang te bring deur moedswillig ons woord te verdraai, ’n skadu oor ons motiewe te werp en ons etikette om te hang wat ons in ’n kwade lig stel en talle misverstande oor ons opwek. Dit kan ook gebeur dat mense ons bedrieg, dat hulle oneerlik, geveins en gevoelloos teenoor ons optree.
Die natuurlike reaksie van ons hart is om sulke mense te haat. Selfs al is ons te beskaaf om ooit eerlik teenoor onsself of teenoor andere te erken dat ons hulle haat, bly dit nog steeds waar. Elke mens wat ’n grief teen sy medemens in homself omdra, koester in homself ’n vorm van haat. Solank ons dinge teen andere hou en hulle nie van harte vergewe nie, kan egte liefde ons hart nie vervul nie. En solank ons bedroef ons die Heilige Gees, wat die Gees van die liefde is. Dit is geen wonder dat ons dan ook die innerlike vrede en vreugde mis wat die Heilige Gees graag in ons harte wil hê.
Ter wille van ons eie geestelike lewe en groei is dit van die allergrootste belang dat ons sulke dinge uit ons lewe uitban. Ons moet innerlik gereinig word van al die griewe wat ons teen mense hou. Ons moet hulle vergewe. Ons moet met God bly worstel tot Hy ons oorwinning gee oor elke vorm van haat in ons hart. Voordat ons daar kom, lewe ons nog ver benede die Christelike maat.
Dit gaan hier natuurlik om iets wat totaal onmoontlik is in ons eie krag. Maar wanneer ons met geestelike dinge te make het, het ons gelukkig nie net ons eie krag om op terug te val nie. Wie daarom bid om só vergewensgesind te word, sal sekerlik nie vergeefs bid nie. – WDJ