Stellenbosch verloor omstrede, dog beminde figuur
WD Jonker
Die Kerkbode, 5 Mei 1982
Met die vertrek van prof Nico Smith vanaf die Kweekskool op Stellenbosch verloor hierdie inrigting ’n bekwame en gewaardeerde leerkrag. In die sestien jaar van sy diens alhier het hy homself met groot toewyding en entoesiasme van sy taak gekwyt.
Sy persoonlike vroomheid, opregtheid en liefde vir die evangelie, sy innemende aard en persoonlike belangstelling in die wel en wee kollegas en studente het van hom ’n beminde figuur gemaak.
Dit is met leedwese dat die gemeenskap by die Kweekskool van hom afskeid neem en hom na ’n ander werkkring sien vertrek.
Op honderde studente het hy ’n invloed ten goede uitgeoefen en die vrug van sy arbeid sal ongetwyfeld nog lank in die Kerk gepluk word.
Die keuse van prof Smith om die beroep na die gemeente Mamelodi aan te neem, dwing ons diepe respek af. Dit is begryplik dat dit vir hom ’n ontworteling beteken om na jare agter die kateder die wetenskaplike arbeid prys te gee en na die gemeentelike bediening terug te keer. Ons is daarvan bewus dat die proses vir hom nie sonder pyn verloop nie. Hoe kan dit ook anders?
Tog glo ons dat hy nie ’n ander motief vir hierdie keuse het nie, as die bereidheid om gehoorsaam te wees as die Here roep. Hy trek met hierdie keuse op ’n bepaalde wyse ’n konklusie uit sy sendingroeping van jare gelede, en is bereid om homself te wy aan die veeleisende diens in ’n Swart stadsgemeente met al die uitdaginge daarvan. Ons het geen rede om te twyfel aan die korrektheid van sy keuse nie.
Dit is waar dat prof Smith in die loop van jare dinge gesê het wat hom tot ’n min of meer kontroversiële figuur laat word het. Die gemeenskap by die Kweekskool is dankbaar om te konstateer dat dit daarby nooit gegaan het om sy gehegtheid aan die leer of sy erkenning van die gesag van die Skrif nie.
Dit raak veel eerder die vrae rondom die toepassing van die Skrifwoord in ons konkrete situasie. Daaroor kan daar uiteraard onder Christene ’n sekere mate van verskil bestaan.
Vir almal wat prof Smith persoonlik ken, sal dit buite dispuut vasstaan dat hy steeds gehandel het in ooreenstemming met wat hy self verstaan het as die beste belange van die kerk en die koninkryk.
Dit moet nie vergeet word nie, dat sommige van die dinge waardeur prof. Smith in bepaalde kringe van die “Moederkerk” aanstoot gegee het, juis weer in die “Dogterkerke” verstaan is as bewyse van die liefde en deernis wat daar in die Ned Gere. Kerk bestaan vir almal wat aan die kerk van Christus behoort. In dié sin het hy aan die Ned Geref Kerk ’n diens gelewer waarvan met dankbaarheid kennis geneem behoort te word.
Na sy eie oortuiging het prof Smith daarin opgetree in ooreenstemming met die beste tradisies en die gees van die Ned Geref Kerk – soos die geskiedenis daarvan getuienis aflê.
In ’n gemeenskap van volwasse Christene behoort dit moontlik te wees dat ons mekaar kan waardeer, selfs waar ons soms met mekaar verskil. Dit stem tot dankbaarheid dat daar by die Kweekskool ’n hoë vlak van openheid en eerlikheid tussen prof Smith en sy kollegas en die studente bestaan het, wat ’n wedersydse gesprek in ’n gees van onderlinge waardering en vertroue moontlik gemaak het – ook waar dit gegaan het om punte van verskil.
Diegene onder ons wat prof Smith en sy vrou oor baie jare heen ken, twyfel nie daaraan dat hy en sy vrou hulleself met groot toewyding en ywer aan hulle nuwe taak sal wy nie. Ons bid hulle daarby graag die duidelike leiding en die rykste seën van die Here toe!