Woorde is nie genoeg nie

WOORDE IS NIE GENOEG NIE
Die Burger, 8 Mei 1982, bladsy 10

Die Bybel is uiteraard nie teen mooi woorde gekant nie, maar vind mooi woorde nie genoeg nie. Mooi woorde sonder ’n basis in die wil om konkrete dade te verrig, word in die Bybel in die skerpste moontlike taal veroordeel. Dit is nodig, omdat dit tot ons menslike swakheid behoort dat ons altyd weer probeer om dinge te probeer reg práát, sonder dat ons veel daaraan wil doen om dit reg te máák.

Die apostel Jakobus gebruik in hierdie verband ’n goeie voorbeeld. Wat help dit, my broers, skryf hy, as iemand beweer dat hy glo, maar sy dade bevestig niks? Kan so ’n geloof ’n mens red? Sê nou daar is ’n broer of suster wat nie klere het nie en dag vir dag honger ly, en sê nou een van julle sou vir hulle sê: ‘Mag dit met julle goed gaan; gaan trek julle warm aan en eet genoeg’, maar julle gee nie vir hulle wat hulle nodig het om van te lewe nie, wat help dit dan? (Jakobus 2:14–16).

Goeie, mooi, simpatieke woorde is nie genoeg nie. Dit is uiteindelik ’n mens se dade, jou bereidheid om iets van jou eie besittings of gemak of weelde op te offer, wat bewys of jou woorde in erns bedoel is of nie.

Die Christelike belydenis is ’n baie konkrete saak. Dit help nie om ’n mooi belydenis in teorie daarop na te hou en die versekering te gee dat ons die gesag van die Bybel erken, as ons nie in ons praktiese lewe blyke daarvan gee dat dit waar is nie. Die Christelike geloof is nie maar die aanvaarding van ’n aantal waarhede nie. Dit is ’n manier van lewe wat gebaseer is op die waarheid wat bely word.

Daarom is ’n belydenis wat nie bevestiging vind in dade van gehoorsaamheid aan die duidelike weg wat die Bybel aan ons voorhou nie, altyd ongeloofwaardig. Dit doen aan die Christelike boodskap ’n groot onguns. Niks is so skadelik vir die Christendom, as mense wat die naam van Christus gedurig op hulle lippe neem, maar in hulle optrede daarvan blyke gee dat hulle wesenlik deur dieselfde motiewe beweeg word as die eerste die beste ongelowige nie.

As ons dit ’n keer op ons politieke lewe toepas, is dit duidelik dat dit niks beteken as ons maar net plegtig verklaar dat ons nie rassiste is, of dat ons opreg begeer dat geregtigheid aan alle mense en groepe in ons land moet geskied nie. Dit help nog weinig om aan andere te sê dat ons hulle alles gun wat ons self het en dat ons graag sal sien dat hulle tot volle self-verwerkliking kom, as ons intussen standpunt inneem en lewenspatrone handhaaf wat meebring dat ons mooi woorde vir daardie mense betekenisloos bly.

Ook in die maatskaplike, ekonomiese en politieke lewe vra die Christelike belydenis van ons meer as mooi woorde. Dit vra van ons offers wat teen ons natuurlike wense en begeertes kan ingaan, maar wat tog noodsaaklik is as ons as Christene op hierdie terreine die daad by die woord voeg. – WDJ