Dit gaan veel dieper

DIT GAAN VEEL DIEPER
Die Burger, 15 Mei 1982, bladsy 10

Daar sal min mense wees wat betwyfel dat goeie gesindhede tussen lede van die verskillende bevolkingsgroepe in ons land noodsaaklik is en dus bevorder behoort te word. Die vraag is egter hoeveel van ons werklik besef hoe hoog die prys daarvan kan wees.

Dit is byvoorbeeld nie genoeg om maar net vriendeliker teenoor mekaar te wees nie. Op sigself is dit verskriklik belangrik. Beleefdheid, die bereidheid om mekaar oor en weer met respek te behandel en tot in ons wyse van aanspreek van mekaar te toon dat ons mekaar as medemense eer, is van die grootste belang. Sonder hierdie klein dingetjies kan ons maar vergeet om beter gesindhede te kweek.

Maar hierdie soort houding is op sigself nie genoeg nie. Dit lê nog steeds op die vlak van die verkeer tussen individue, op die terrein van die “kleiner” menslike verhoudinge. As dit nie gepaard gaan met daadwerklike stappe om op ’n breër vlak die gelykwaardigheid van alle mense te erken en die menswaardigheid van alle mense te dien nie, is dit nie in staat om fundamentele verandering in die onderlinge verhouding tussen bevolkingsgroepe te bring nie.

Die bevordering van beter gesindhede mag dus ook vir die Christen nooit net ’n saak wees van die betoning van meer vriendelikheid en tegemoetkomendheid op die persoonlike vlak nie. Dit moet ook vir hom – nee, juis vir hom – ’n saak wees van geregtigheid wat oor die breë terrein van die totale lewe van die mens aan almal in ons land moet geskied. Deur dit na te jaag, bewys ’n mens jou eie goeie gesindheid en kweek jy terselfdertyd goeie gesindhede van die ander kant.

In die bevordering van beter gesindhede gaan dit dus om veel dieper dinge as vriendelike woorde en beleefdheid in ons persoonlik omgang met mekaar. Dit gaan daarom dat ons, soos die Bybel ons leer, nie net elkeen na sy eie belange moet omsien nie, maar óók na dié van die ander (Filippense 2:4). As ’n mens dit in maatskaplike en politieke terme vertaal, beteken dit die bereidheid tot ingrypende maatreëls om die belange van almal in ons land op sodanige wyse te bevorder dat die volle potensiaal van hul mens-wees tot sy eie reg kan kom.

Die prys daarvoor kan hoër wees as wat talle van ons bereid is om te betaal. Dit kan offers van ons vra wat veel groter is as wat ons in gedagte gehad het toe ons oor beter gesindhede begin praat het. Maar dit kan meebring dat ons in ruil daarvoor ontvang dat tonne-vragte negatiewe gesindhede en frustrasies opgeruim word. Dit kan beteken dat ons self ’n baie groter mate van innerlike bevryding en verruiming kan ervaar en iets begin verstaan van wat die apostel Paulus sê – dat dit saliger is om te gee as om te ontvang. – WDJ