’N TYD VAN GEBED
Die Burger, 22 Mei 1982, bladsy 10
Soos in die Ned Geref Kerk gebruik geword het, sal daar ook weer vanjaar in die tyd tussen Hemelvaart en Pinkster in talle gemeentes in ons land saam gebid word om ’n groter openbaring van die werking van die Heilige Gees in die kerk en in die wêreld.
Die betekenis van so ’n tyd van gebed moet nie onderskat word nie. Feit is tot dat ons in ons eie krag niks vermag nie. Ons leef in uiters moeilike en kritieke tye. Daar is geweldig veel geestelike verwarring onder die mense. Daar is onoplosbare vraagstukke waarvoor ons in ons tyd gestel is. Dit is of die skroewe van spanning, vrees en onsekerheid steeds sterker op ons lewe aangedraai word.
In sulke tye kyk mense na die kerk om ’n bevrydende woord te spreek. Die kerk word geroep om duidelik heen te wys na die vaste bakens, na die veilige hawens, na die onwrikbare rots in die gemaal van die stroom. Mense verwag van Christene om in elke moontlike verleentheid wat ons vanweë die tye kan oorval, tog nie radeloos te wees nie, omdat hulle ’n Stem gehoor het, ’n belofte het om aan vas te hou, ’n getuienis om te lewer.
Die kerk kan dit egter alleen doen deur die krag van die Heilige Gees. Sonder die krag van die Heilige Gees is die woorde van die kerk betekenisloos, ja, sal die kerk nie eens in staat wees om te weet wat om te sê nie. Dit spreek nie vanself dat die kerk sal kan onderskei waarop dit werklik aankom en wat die bedoeling van God vir ons in elke uur en situasie is nie. Die kerk moet dit telkens weer, van oomblik tot oomblik, deur die verligting van die Heilige gees ontvang.
Juis daarom is dit so noodsaaklik dat voortdurend en volhardend om die Heilige Gees gebid moet word in die kerk. Dit is waar, die heilige Gees is eenmaal uitgestort en het gekom om in die gemeente van Christus op aarde te woon. Die gemeente beskik egter nie oor die Gees nie. Die Gees wat eenmaal gekom het, moet telkens weer in Sy krag oor gelowiges kom en in hul lewe werksaam word. In die verhouding tussen die Gees en die kerk is daar dikwels blokkasies wat verhinder dat die Gees die kerk in Sy volheid kan laat deel en die kerk kan gebruik soos dit gebruik behoort te word.
Daarom is dit geen oorbodige luukse om veel tyd af te staan vir gebed en die suiwerende bekragtigende werking van die Gees in die gemeente nie. Pinkstertyd moet nie maar net nog ’n preekgeleentheid word nie. Dit moet ’n tyd van gebed bly. Die Bybel gee die versekering dat God die Heilige Gees wil gee aan dié wat tot hom bid (Lukas 11:13). Kinderlike, ootmoedige gebed om die openbaring van die Gees in die lewe van gelowiges en in die kerk as organisasie behoort meer as tevore ons aandag te geniet.
As God die kerke seën en besoek deur sy Gees, sal dit vir die hele gemeenskap tot heil en seën word. – WDJ