Dit is iets nuuts

DIT IS IETS NUUTS
Die Burger, 29 Mei 1982, bladsy 12

Die Christelike kerk vier tans weer Pinksterfees. Die kern van waarom dit daarin gaan, is dat die uitstorting van die Heilige Gees op Pinksterdag herdenk word en dat gevra word na die volle betekenis daarvan.

Die Nuwe Testament laat ons daaroor nie in die duister nie. Die Gees wat op Pinksterdag uitgestort is, is die Gees van Christus. Natuurlik is die Heilige Gees van die Vader. Hy is die Gees van die Skepper en Onderhouer van alle dinge. Niks wat bestaan, het tot stand gekom sonder die werking van die Gees nie, en alles word deur sy werking in stand gehou.

Maar wanneer die Heilige Gees in die Nuwe Testament nou ook spesifiek die Gees van Christus genoem word, word daarmee klem gelê op die verlossende, bevrydende en vernuwende werk van die Gees. Alles wat Christus deur sy gehoorsaamheid, dood en opstanding vir ons verkry het, word deur die Heilige Gees in ons lewe oorgebring en ons tot deel gemaak deur die geloof.

Daarom is Pinksterfees die fees van vernuwing. En inderdaad, die Heilige Gees bring iets totaal nuuts in die menslike lewe tot stand.

Die wêreld waarin ons leef, word beheers deur die gees van selfsug, liefdeloosheid, eiegeregtigheid, oneerlikheid en dergelike dinge meer. Die Bybel noem dié dinge die werke van die vlees. Dit is die slegte vrugte wat groei aan die slegte boom van ons verwording. Lees maar elke dag die koerant, en u vind talle bewyse daarvan hoe mense se lewe beheers en vernietig word deur die mag van die vlees. Of laat ons maar ’n keer na binne kyk. As ons eerlik is, sal ons ontdek dat ons in ons diepste wese deel het aan hierdie verwording met al sy bose vrugte.

Wanneer nou in hierdie bedompige, met haat gevulde wêreld skielik ’n vars lug begin waai – die wind van die Heilige Gees – beteken dit die totstandkoming van iets nuuts. Dit beteken verlossing en bevryding uit die mag van die vlees. Dit beteken dat mense gevorm word na die beeld van Christus.

Niemand moet tog dink dat dit maar mooi woorde is nie. Die vernuwing wat die Gees van Christus bring, word daagliks deur talle mense in die wêreld ontdek en ervaar. ’n Mens moet bevooroordeeld en blind wees as jy nie opmerk hoe talle mense se lewe verander word en hoe ’n nuwe gees en gesindheid in hulle opgewek word nie.

Die wekroep wat op Pinksterfees in die wêreld uitgaan, is eenvoudig. Stel jouself tot beskikking van die Gees, word gewillig om deur die Gees van God aangeraak en vernuwe te word! Die skuld vir ons geestelike doodsheid en traagheid moet nie by die Heilige Gees gesoek word nie. Hy is uitgestort en waar Hy werk, word mense nuut. Die skuld lê by ons as ons agterbly in die vernuwende gang van die Gees deur die wêreld. – WDJ