WAAR ONS NIE WOU WEES NIE
Die Burger, 5 Junie 1982, bladsy 10
’n Mens verander baie deur die loop van jou lewe. As ons terugkyk oor ons lewensloop, sal daar baie opsigte wees waarin ons sal moet vasstel dat ons ingrypende veranderinge ondergaan het.
Dit geld nie net ons uiterlike of ons fisieke veranderinge nie. Dit geld net sowel ons psigiese en ons geestelike verandering. Deur die loop van die jare begin ’n mens oor baie dinge baie anders dink as vroeër. Oor die algemeen is dit met mense so, dat hulle langsamerhand hul wilde hare begin verloor en dat hulle milder begin dink en optree.
Dit is egter lank nie altyd die geval nie. Dit kan ook gebeur dat mense in die loop van die jare harder word, bitter en suur, omdat hulle bepaalde gebeurtenisse in hul lewe nie reg kon verwerk nie en dus verkeerd op die lewe reageer. Ons almal verander, omdat geen lewende wese kan bly wat hy is nie. Nie alle veranderinge is egter verbeteringe nie.
Die beslissende vraag is dus in watter rigting ons verander. Die sukses of mislukking van ’n mens se lewe hang van hierdie vraag af. In hierdie verband is dit noodsaaklik om te besef dat ’n mens eintlik net op een manier in die regte rigting kan verander, en dit is as jy geestelik vernuwe word. Hartsverandering is die basiese, voorwaarde vir alle diepgaande verandering in die regte rigting.
Alleen deur hartsverandering kan ’n mens se lewe omgebuig word in ’n rigting waarin jy van nature nooit sou wil gegaan het nie. Alle ander verandering bly nog maar steeds binne die beperkte moontlikhede van ons ou geaardheid. Dit is net wanneer die Gees van God ’n nuwe begin met ’n mens maak, dat hy in beginsel bereid word om deurtastend verander te word.
Ook dit is natuurlik geen maklike proses nie. Die ou geaardheid in ons bly maar teenstribbel teen die koers van die Gees. Ons rem en ons skop vas, ons sê soos Petrus meer as één keer: Nooit nie, Here! (Handelinge 10:14). Maar uiteindelik wen die Gees tog, en dit word van ons waar dat ons anders word en anders dink, anders optree en anders praat.
Jesus het Petrus gewaarsku: “Toe jy jonger was, het jy self jou klere vasgemaak en gegaan waar jy wil; maar wanneer jy oud is, sal jy jou hande uitsteek, en iemand anders sal jou vasmaak en jou bring waar jy nie wil wees nie” (Johannes 21:18). Petrus het dit letterlik so ondervind. Wie Christus volg, word dikwels, nee altyd, gebring op ’n plek waar hy van nature nie wou wees nie.
Die woord van Jesus aan Petrus is egter nie net ’n waarskuwing nie. Dit is ook ’n belofte. Goddank dat ons onder die leiding van die Heilige Gees kan verander en sal verander om te kom waar ons nie wou wees nie, maar waar ons behoort te wees as ons kinders van God is. – WDJ