“VEEL WARMTE TE MIDDE VAN KOMMER IN ZIMBABWE” –
sê prof Willie Jonker ná ’n besoek aan dié land.
Die Kerkbode, 16 Junie 1982
Ondanks die probleme waarmee die Kerk in Zimbabwe te doene kry, is daar ook veel om voor dankbaar te wees, meen prof. Willie Jonker van Stellenbosch.
By baie lidmate is daar ’n honger na die Woord en is daar ’n warmte en innigheid te bespeur, het hy aan Die Kerkbode gesê nadat hy die land tydens die pinkstertyd besoek het vir ’n paar dienste.
Uit die aard van die saak meen hy dat ’n mens versigtig moet wees om op grond van die indrukke van enkele dae en van die omstandighede in een gemeente algemene uitsprake oor die toestand van die Kerk in Zimbabwe te maak. Tog glo hy dat wat van Bulawayo geld, miskien ook in ’n groot mate van die ander gemeentes in Zimbabwe waar sal wees.
Diepe sorg
Een van die eerste dinge wat hom opgeval het, is die diepe sorg by die lidmate oor die algemene lands-omstandighede. Hoewel daar ’n baie groter mate van veiligheid heers as tydens die oorlog, is daar vanweë verskillende faktore tog nie volkome rus in die land nie. ’n Mens hoor meermale van ongereeldhede wat plaasvind, veral in die platteland, sodat voortdurende versigtigheid nodig is.
Nie die feit dat Zimbabwe ’n Swart regering het nie, maar die feit dat die regering doelbewus ’n bepaalde ideologie propageer, maak dit vir baie lidmate ’n vraag of hulle in die land kan aanbly.
Die vraag kom ’n mens telkens by haas elke lidmaat tee. Die feit dat so baie lidmate reeds die land verlaat het en dat groot gemeentes gekrimp het tot enkele honderde lidmate wat wydverspreid woon, terwyl sommige gemeentes feitlik doodgeloop en by ander ingeskakel het, het die effek dat baie lidmate waarskynlik hulle aanwesigheid in die land as iets tydeliks ervaar – iets wat die een of ander tyd in elk geval beëindig sal word. Die groot vraag is wanneer dit moet gebeur.
Minder werd
In hierdie verband speel materiële oorwegings natuurlik ’n groot rol. Uiteraard is dit nie die enigste soort oorweging wat mense het nie. Daar is baie wat die land liefhet. Dit is hulle geboorteland. En wat ’n pragtige en heerlike land is dit nie! Tog sal ’n mens moet sê dat materiële oorwegings ’n groot rol speel.
Diegene wat uit die land vertrek, kan eintlik niks van hulle besittings mee neem nie, of in elk geval baie min.”
Prof. Jonker meen dit spreek vanself dat al hierdie omstandighede die lidmate van die Kerk in Zimbabwe aan ’n ernstige toets onderwerp. Dit is maklik om onder sulke omstandighede bitter te word en slegs negatief te reageer, sê hy.
Met groot dankbaarheid moet ’n mens egter konstateer dat daar talle lidmate is wat nie so reageer nie. Trouens, dit val ’n mens op watter groot mate van geestelike erns daar by die lidmate aanwesig is. Vanweë die omstandighede waarin hulle verkeer, word hulle gedwing om aan hulleself rekenskap te gee van wat die diepste fondamente van hulle bestaan en hulle werklike houvas in die lewe is.
By baie van hulle tref ’n mens gevolglik ’n besef aan van die relatiewe waarde wat alle aardse besittings en binnewêreldse vastighede het. Dit verbly ’n mens om te ontdek dat daar by baie lidmate ’n geestelike vryheid gekom het waarin aardse besittings vir hulle veel van die betekenis verloor het wat dit vir so baie van ons het.
Hulle verstaan die situasie waarin hulle verkeer as ’n leerskool van God waarin hulle van stap tot stap gelei word om hulleself los te maak van aardse dinge waaraan ons van nature met soveel geweld vashou.
Oral waar mense deurbreek tot ’n positiewe reaksie op hulle situasie, ontdek ’n mens by hulle ’n soeke na ’n dieper kennis van God en sy wil vir hulle lewe.
Dit het prof. Jonker opgeval watter groot rol die Kerk in hierdie tyd vir die lidmate speel. Persentasie gewys was die opkoms by die pinksterbidure besonder hoog. Daarby vorm die Kerk ’n soort sentrum vir die lidmate.
Dinge wat ons graag in al ons gemeentes sal wil sien gebeur, kom daar blykbaar byna vanself na vore. Daar is ’n warmte en innigheid onder mekaar wat ons alte veel in ons gemeentes mis, miskien juis omdat hulle so groot en welvarend is.
Daar is ’n honger na geestelike gesprekke na ’n verkeer met mekaar rondom die Woord. Iets van wat die gemeente bedoel is om in die wêreld te wees, word daar sigbaar. Daaroor kan ’n mens maar net innig dankbaar wees.
Opbou
Baie van ons lidmate in Zimbabwe is nou ryp vir ’n intensiewer vorm van geestelike ophou as waaraan die meeste van ons gemeentes in die Republiek behoefte het.
Die feit dat ons gemeentes in Zimbabwe in ’n minderheidsposisie verkeer in ’n omgewing waarin hulle getuienis nie ’n vanselfsprekendheid is nie, skep ’n geleentheid vir die Kerk om terug te val op die mees basiese dinge van sy roeping en verkiesing.
Prof. Jonker wys verder daarop dat die Kerk in Zimbabwe voor ’n aantal uitdagings gestel is. Een daarvan is die vraag hoe die verhouding tussen die Blanke en die Swart Kerk struktureel gereël moet word.
Die Blanke Kerk ver staan homself reeds as ’n oop kerk, maar daar word nog allerlei probleme ondervind met die vrae rondom die vorms waarin die eenheid van die Blanke en die Swart Kerke tot openbaring moet kom.
In hierdie opsig moet daar veel voorbidding gedoen word vir die Kerk in Zimbabwe want wat daar gebeur, kan ook van betekenis wees vir die Kerk in die Republiek.
Prof. Jonker gee toe dat hy miskien te optimisties is oor die stand van die geestelike lewe van die Zimbabwese Kerk – vanweë die kortheid van sy besoek en die selektiewe aard van sy kontakte.
Tog is hy daarvan oortuig dat daar alle rede is om God te dank vir die Kerk en om voorbidding te doen vir die span jong predikante wat tans die gemeentes daar bedien, “sodat hulle die toerusting en wysheid mag hê om te doen wat nodig is vir die opbou van die Kerk in hierdie moeilike tyd.