ONS MOET LEER KYK
Die Burger, 26 Junie 1982, bladsy 8
’n Mens moet jouself doelbewus daarin oefen om rondom jou te leer kyk. Anders gaan duisende dinge ’n mens verby sonder dat jy dit opmerk. Jou ervaring van die wêreld en die lewe verskraal en jou lewe word in ’n sekere sin maar half geleef.
Skilders en digters, ja, alle kunstenaars is mense wat die gawe ontvang het om skerper as ander waar te neem wat in die wêreld rondom hulle en binne-in hulle gebeur. Tog is dit ook in hulle geval nodig dat hulle geskool moet word in die kuns om hul oë en ore en alle sintuie oop te stel vir die duisende indrukke wat op ’n mens afkom. Na die mate waarin hulle daarin slaag om dit te doen, kan hulle die lewe teken soos hy is en ons ander help om ook iets raak te sien van die skoonheid wat hulle sien, óf ons te skok deur die skerp blik wat hulle ons skielik verleen in die ellende en verwording van die werklikheid waarin ons leef.
Dit is egter nie net hulle wat moet leer om goed rondom hulle te kyk nie. Ons almal moet dit doen. Daar is te veel skoonheid in die wêreld waaraan ons in ons gejaagdheid agteloos verbygaan. Daar is die lug en die veld, die vorm en die kleur, die see en die land met al die rykdom wat God in sy goeie skepping daaraan verleen het. As ’n mens eenmaal geleer het om daarna te kyk met die bedoeling om dit te sien en in jou op te neem, is dit so boordensvol skoonheid, dat ’n mens se lewe elke dag daardeur verryk word.
Maar dit gaan nie net om die natuur nie. Dit gaan ook om mense. ’n Kollega het my eenmaal vertel dat hy die eerstejaarstudente in die teologie verplig om elke week enkele ure op straat te gaan deurbring met die uitsluitlike doel om te leer kyk na die mense. Soos die kunstenaar moet oefen om te kyk, so moet elkeen van ons wat met ander mense omgaan, leer om na hulle te kyk. Te veel van andere se smart en eensaamheid, te veel van hulle geluk en vreugde, te veel van hulle lewe gaan ongemerk by ons verby, selfs al leef ons tussen hulle.
Ons is so gepreokkupeer met onsself en die probleme wat onsself het of die baie dinge wat ons vandag nog wil doen, dat ons dikwels verbygaan aan mense wat hulle oë op ons gevestig het om hulp. Ons kom nie eens agter dat ander minder het as ons, of dat daar ’n roep van hulle uitgaan om tog net iets van ons belangstelling aan hulle te bestee nie. So het die priester en die Leviet ook in die gelykenis van die Barmhartige Samaritaan verbygeloop by die gewonde man.
Maar Jesus het ’n oog gehad vir die nood van ryk en arm, van sieke en gesonde. En in navolging van Jesus kan ook ons leer om God se wêreld en ons mede-mense raak te sien. – WDJ